Edward Gobey was die kompleks se veiligheidsbestuurder. Die ander twee oorledenes was bure van Danie, het kapt. Dave Miller, polisiewoordvoerder, bevestig. Jannie Earle (65), die sekretaris van die Afrikaanse Taalraad, was glo een van Danie se bure. Die polisie het egter nog nie die name van die oorledenes amptelik bekendgemaak alvorens hul naasbestaandes in kennis gestel is nie. Al wat Dave kon bevestig was dat al drie oorledenes manlik en in hul 50’s en 60’s is.

Volgens Dave het die polisie gistermiddag omstreeks 12:30 ’n klagte ontvang van beskadiging van eiendom nadat Danie glo die motor van ’n inwoner van die kompleks met ’n klip gegooi het.

“Polisielede het saam met Edward en veiligheidswagte na die beweerde oortreder se huis gegaan in ’n poging om met hom te praat,” sê Dave.

“Dit is toe dat dinge lelik raak. “Die man het op die inwoners, polisie en veiligheidswagte begin skiet. Die polisie en veiligheidswagte het agter hul voertuie gaan skuil, maar drie inwoners is noodlottig gewond.” Miller sê die polisie en veiligheidswagte kon nie beweeg nie. Hulle is deur die skieter vasgekeer. Hy het vanuit die huis op hulle geskiet. Die polisie se onderhandelaars en spesiale taakmag is na die toneel ontbied. Die strate is afgesper en inwoners is verhinder om die kompleks binne te gaan “omdat dit so ’n sensitiewe en hoogs riskante situasie was”.

Hulle het probeer om Danie te kontak, maar dit het nie vrugte afgewerp nie. Teen 19:30 het die taakmag met ’n koeëlvaste voertuig by die kompleks ingegaan om die vasgekeerde polisielede en veiligheidswagte te red.

En teen 22:00 het die taakmag besluit om by Danie se huis in te gaan.

“Die taakmag het op ’n man afgekom wat doodgeskiet is. In dié stadium vermoed ons hy het homself geskiet, maar ons wag op die ballistiese en forensiese ondersoeke om dit te bevestig.”

Die polisie het eers teen vanoggend om vieruur hul forensiese ondersoeke in die skieter se huis voltooi.

Dave sê die polisie weet mense is verontrief omdat hulle nie toegelaat is om na hul huise te gaan nie en die polisie het reeds by monde van die stasiebevelvoerder van die Garsfontein-polisiekantoor, kol. Andrew Lesch, formeel verskoning gevra.

“Maar die mense moet weet, hul veiligheid en ons veiligheid was vir ons van uiterste belang. Hierdie was ’n uiters riskante situasie.”

Volgens Dave was Danie getroud. Hy is nie seker of hy kinders het nie. Die polisie het drie gelisensieerde wapens in sy huis gevind. Hulle stel ondersoek in om te bepaal of hy enige vorige oortredings het.