Wel, die 35-jarige Tara Kavanagh het dit werklik reggekry. Sedert sy die paadjie na gewigsverlies aangedurf het, het sy drie trapmeule voor die televisie aan die brand gehardloop.

Die voorheen vetsugtige vrou van Rapid City in Suid-Dakota het die skaal op 138 kg laat steier voor die dood van ’n boesemvriendin haar so geskok het dat sy haar lewe omgekeer het.

Toe sy met haar strewe begin het om die kilogramme af te skud, het sy haarself belowe sy sou nie televisie kyk behalwe as sy oefen nie – en dit is presies wat sy gedoen het.

“Toe ek aanvanklik begin gewig afskud het, het ek ’n ooreenkoms met myself aangegaan dat ek slegs kon televisie kyk indien ek op die trapmeul stap, selfs al loop ek nie baie vinnig nie,” het Tara vertel.

“Ek het op daardie manier drie trapmeulenjins uitgebrand, maar dit het my beslis gehelp gewig verloor, want ek het baie televisie gekyk.

Dit het ’n jaar en ’n half geduur voor ek 66 kg afgeskud het en dit het alles in my sitkamer op my trapmeul geskied terwyl ek ook DVD’s by die huis gekyk het.

Emosionele etery het, volgens Tara, tot haar vetsug gelei.

“Ek onthou dat ek in die laerskool al selfbewus was omdat ek groter was as my maats,” het sy gebieg.

“Ek was nooit baie aktief nie en het baie volgens my emosies geëet, dus was dit ook oor die jare ’n belangrike faktor ten opsigte van my gewigstoename.” 

“Ek het uitgesien na kos. Dit het my beter laat voel.” 

“Die neiging tot vetsug is ’n familiekwaal by ons, dus het ek gedink ek sou my hele lewe lank groot wees.

“In my grootwordjare was my geliefkoosde kossoorte macaroni-en-kaas, dubbelkaasburgers en alle gebakte kossoorte. Ek was baie lief vir bak en het heeltyd koekies gebak,” het die ma vertel.

Haar gewig het spoedig haar sosiale lewe begin beïnvloed en sy het besef dat dit haar eintlik verhoed om te lewe.

“Die feit dat ek oorgewig was, was altyd in my agterkop. Dit het my gekeer om dinge saam met my vriende te doen, nuwe dinge te beproef en selfs skool toe te gaan.

“Die bekommernis oor my gewig het my geweldig terneergedruk en angstig gemaak. Ek het so ver moontlik sosiale situasies vermy en uitnodigings om pret te hê, van die hand gewys omdat ek skaam was oor my grootte.

“Toe ek so groot was, het dit gevoel asof ek net bestaan en nie werklik lewe nie.”

Die keerpunt het vir haar gekom toe haar vriendin sterf en sy begin besef die lewe is te kort om nie voluit te leef nie.

“Dit het my laat besef die lewe is kort en ons weet nooit wanneer ons tyd verby is nie,” het Tara opgemerk.

“Ek wou nie jonk sterf as gevolg van probleme wat met vetsug verband hou nie. Ek wou ’n goeie voorbeeld wees vir my kinders en ek wou ’n gesonde, aktiewe ma wees.

“Ek wou nie die res van my lewe ongelukkig wees oor my gewig en my bekommer oor my gesondheid nie.”

Foto: Magazine Features

Toe sy hierdie paadjie aangedurf het, is metabolismeversterkers en ’n antidepressant vir haar voorgeskryf om die emosionele etery te beveg en sy het dit geneem tot haar gesonde eetgewoontes gevestig was.

Sy merk op: “Ek het hierdie medikasies ’n kort rukkie geneem sodat ek kon uitvind hoe min ek hoef te eet en hoeveel ek moes beweeg om gewig te verloor.

“En toe, terwyl die gewig gedaal het, het ek meer geleer oor gesonde eetgewoontes en begin om liewer meer voedsame kossoorte in te neem. Ek het rekord gehou van my kilojoules en elke dag seker gemaak ek verbrand meer as wat ek inneem.”

Die tuisbly-ma trek tans die skaal op ’n skrale 72 kg en sy hoop om ander mense ook op te lei.

Ek laat nie meer toe dat my grootte my verhinder om die dinge te doen wat ek wil beproef nie,” het sy opgewek laat hoor.

“Ek het al ’n klompie asemrowende dinge gedoen wat ek nooit sou kon doen toe ek groter was nie, soos byvoorbeeld valskermspring, in die see swem, reis, joga-inrigtings besoek, saam met my gesin op staptogte gaan en nog baie meer.”

Sy het ook erken sy het verslaaf geraak aan oefening.

“Dit is ’n gewoonte vir my, net soos tande borsel. Ek kan nie gaan stort as ek nie natgesweet is nie.

“Gewigsverlies het my hele lewensuitkyk verander,” het sy bygevoeg.

“As ek na ou foto’s kyk, wens ek ek kon vir daardie meisie alles vertel wat ek nou weet sodat sy vroeër in haar lewe al daardie gesonde veranderings kon aanbring. Ek sou destyds egter nooit kon glo dat ek so sou lyk en voel nie."

“Dit is beslis die rede waarom ek ander mense wil help om te besef daar is hoop en jy kan altyd beheer oor jou lewe neem, selfs al dink jy dit is onmoontlik.

“Die geringste veranderinkie kan ’n yslike verskil maak. Jy moet net iewers begin.”