Kinders wat hulle aan kos vergryp, het ’n risiko vir vetsug en diabetes. ’n Nuwe ondersoek toon hulle het ook ’n groter kans op dwelmgebruik as dié wat dit nie doen nie.

Vir die Boston-kinderhospitaal in Amerika se ondersoek het navorsers meer as 16 000 kinders nege jaar gemonitor. Hulle het bevind dié wat hulle gereeld ooreet, loop ’n amper drie keer groter gevaar om dwelms te gebruik. Impulsiewe gedrag veroorsaak moontlik die hoër risiko vir dwelmgebruik, dieselfde temperament wat maak dat kinders hulle aan kos vergryp.

Dr. Kendrin Sonneville beveel aan dat onreëlmatige eetgewoontes by kinders aandag kry lank voor dit hul gewig begin benadeel. Ouers wag dikwels tot hulle oplet hul kind sit gewig aan voor hulle ingryp. Dit kan latere probleme help voorkom as jy ’n dieetkundige vroegtydig raadpleeg.

Begin beweeg

As jy bekommerd is oor jou kind en hul gewig, raak aktief. Wanneer jy vyf verdiepings se trappe vyl maal per week klim, verbrand jy sowat 1 268 kilojoules. Dink aan maklike maniere om elke dag aktief te wee.

Fantasties vesel

Pektien in appels help jou verteringskanaal ontgif. Pere, piesangs, sitrusvrugte, wortels en kool bevat ook dié vesel.

Tien uit tien vir tuna

Tuna is net die pasmaat vir ’n somerslaai en hou talryke voordele vir jou gesondheid in. Dié vetterige vis is propvol omega-3-vetsure, wat ’n groot rol speel in die verlaging van cholesterol en beskerming teen hoë bloeddruk, rumatoïde artritis, Alzheimersiekte en depressie. Tuna is ook ’n uitstekende energiebron, want dis ryk aan proteïen en vitamien B. ’n Blikkie tuna bevat net minder as 1 mg vitamien B6, wat die vervaardiging van die goedvoelhormoon serotonien bevorder. Maar pasop vir vars tuna en moenie te gereeld daarvan eet nie – dit bevat dalk baie kwik.

Tamaties keer bedruktheid

As jy vermoed jou kind vergryp hom aan kos omdat hy teneergedruk voel, pak tamaties in jou kruideniersmandjie en slaan neerslagtigheid hok. Navorsers het die geestesgesondheidsrekord en dieetgewoontes van amper duisend mans en vroue aan China se Tianjin Mediese Universiteit bestudeer. Hulle het bevind mense wat twee tot ses keer weekliks tamaties eet, se kans om bedruk te raak is 46 persent minder as dié wat dit minder as een maal weekliks geëet het. Dit is bekend dat likopeen, ’n antioksidant wat tamaties hul dieprooi kleur gee, jou risiko vir prostaatkanker en hartaanvalle verminder. Nou blyk dit ook dit het eienskappe wat spanning verlig.

Bronne: health24.com, archpedi.jamanetwork.com, jad-journal.com, bmj.com, info.gov.za, livestrong.com, roehampton.ac.uk