[caption id="attachment_164472" align="alignnone" width="600"]Foto: Willie Fourie Foto: Willie Fourie[/caption]

Huisgenoot het gaan kennis maak met die brunet wat nou amptelik die voorste kenner van Suid-Afrika se gunsteling peuselhappie is.

“Ek was nog altyd lief vir kos, enigiets te doen met kos – kook, bak, letterlik enigiets gekook of gebak,” vertel sy in haar kantoor by Cape Deli Biltong in Kaapstad se noordelike voorstede waar sy nou as die handelsmerk se bestuurder van gehalte en voedselveiligheid werk.

Terwyl sy vir haar vier-jaar BSc-graad in voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer het, het sy haar passie vir navorsing en ontwikkeling ontdek.

Haar meestersgraad het ook oor droë vleis gegaan - in dié geval oor wat met droëwors gebeur as jy rooibos-ekstrak by dit voeg.

Dié studie het sy so geniet dat sy besluit het om vir haar doktorsgraad biltong te takel. Die studie het gegaan oor hoe biltong droog word en spesifiek of onder meer wat gebeur as jy asyn saam met jou speserye by die vleis voeg.

[caption id="attachment_164471" align="alignnone" width="600"]Foto: Willie Fourie Foto: Willie Fourie[/caption]

“Niemand het biltong al intensief nagevors nie, toe dink ek hoekom nie? Die gebrek aan vorige navorsing het my in staat gestel om dit stap vir stap aan te pak en daarom lyk my tesis eintlik taamlik eenvoudig. Maar dit is so wonderlik, want nou weet ons waar die leemtes is en dit kan nog verder nagevors word,” sê sy.

Haar ouers, George (69) en June (62) Jones van Bergvliet, is nogal in hul noppies met dié dogter wat op so ongewone manier haar stempel op die wêreld afgedruk het. Biltong was altyd ’n gewilde eetding in die Jones-huishouding en George het in ’n biltongdroogboks belê sodat Maxine haar eie kan maak.

Dit was vir haar so lekker dat sy nou, nadat sy haar studies voltooi het, bietjie meer tyd daaraan wil wy om vleis te droog.

En, “nee”, ’ ná jare se navorsing is sy verbasend genoeg nog nie keelvol vir biltong nie; nie eens nadat sy 18 maande lank “oorvloedige hoeveelhede” daarvan geëet en intense navorsing gedoen het nie.

[caption id="attachment_164470" align="alignnone" width="600"]Foto: Willie Fourie Foto: Willie Fourie[/caption]

Sy voeg by sedert die nuus van haar ongewone navorsingsprojek bekend geword het, word sy oorval met e-posse en oproepe van mense wat raad soek oor hoe om smaaklike biltong te maak.

Sy help graag, maar haar studies was ingestel op die beste praktyk vir vervaardigers wat biltong op ’n nywerheidskaal vervaardig in goed onderhoude droogkamers eerder as mense wat iets in hul agterplaas uitdroog.

Die hoeveelheid sout, peper en koljander wat Oom Jan in sy tuisgemaakte biltong sit voordat hy dit aan ’n tak buite in die lug laat uitdroog, is eintlik ’n saak van persoonlike voorkeur.

En dis ook reg dat kleinskaalse biltongmakers hul eie koppe volg, vertel sy. “Sommige van die beste biltong waarop ek afgekom het toe ek so ver soos Bela-Bela (in Limpopo) vir my studies gereis het, was van kleinboere wat hul eie manier het van biltong maak. Hulle doen beslis iets reg, maar jy kan nie jou vinger daarop sit nie, want hulle verwerk al honderde jare lank biltong op ’n sekere manier en party van die boere was nie gretig om hul resepte met my te deel nie,” lag sy.

Van dié ou geheime het wortels wat so ver terug as die Groot Trek strek.

Hoekom is biltong nie oorsee gewilder nie? “Ons voer nie veel biltong uit nie, want die internasionale mark beskou dit nie as veilig nie en daar is baie rompslomp,” sê sy. “Maar as ons gehaltemaatreëls kan afdwing en regulasies uitstippel, sal dit makliker wees om dit te versprei.”

En, wie weet, as die doktor se voorskrifte gevolg word, behaal biltong dalk ook wêreldroem soos Nando’s, Kreepy Kraulies en vuvuzelas.