Op Saterdag 11 Junie is sy ses maande oue seun, Deon, met brandmerke en ’n gekraakte skedel in sy wiegie gekry – dood. Luidens berigte sou Pelser deur die loop van die dag na Deon kyk.

Toe sy ma by die huis kom, wou sy weet waar hy is. Pelser het glo gesê Deon slaap. Sy het ondersoek gaan instel en haar seun gevind waar hy toegedraai was in ’n handdoek. Hy het nie asemgehaal nie.

Kort daarna het Pelser sonder ’n verduideliking die pad gevat met die vrou se koperkleurige Picanto. Daar word vermoed hy het koers gekies na Botswana; daar was ook sprake van familie op Swartruggens en in Rustenburg.

’n Oplettende mens het die voertuig langs die pad sien staan, die registrasienommer herken en die polisie Woensdag net ná 14:00 gekontak.

Daar was niemand in die motor nie.

“Ek het ’n man tussen die asdromme by die motorhawe sien staan en gedink dis vreemd vir die area,” het sy aan die Roodepoort Northsider gesê.

’n Foto van Pelser is oor die nuus en Facebook versprei, en sy het hom onmiddellik herken toe hulle oogkontak maak en die polisie in kennis gestel.

Ashtyn Mackenzie, ’n joernalis van die Roodepoort Northsider, was op die toneel toe Pelser aangekeer is.

Hy beskryf die oomblik toe hy die Picanto nader as onvergeetlik – die besef dat daar twee kinderstoeltjies in die motor is en die rede waarom Pelser in hegtenis geneem is, is verbysterend.

Met sy aankoms by die Honeydew-polisiestasie het Pelser ’n kortbroek en baadjie aangehad, maar hy was kaalvoet.

Daar kan net gegis word oor wat tot die weerlose baba se gru-dood gelei het. Pelser se Facebook-foto’s skep die indruk van ’n oënskynlik gelukkige man wat graag saam met ’n baba afgeneem word.

Die meeste van sy plasings dui daarop dat hy gek is oor die vrou met wie hy op 20 Desember 2014 getrou het: “sys net awesome en ek lief haar bjaaaa…”