Verskeie lede van die publiek het reeds klagtes ingedien oor die onwettige storting van karkasse in die noordelike gebied van Ladanna, deel van die sentrale besigheidskern van Polokwane. Die karkasse is vermoedelik afkomstig van 'n verskeidenheid soorte wild wat moontlik deur onwettige jagters daar gestort is. Simon Napo, woordvoerder van die departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing en Toerisme, sien 'n sterk verband tussen die karkasse en die jagseisoen wat nou in volle swang is. Hy het ook genoem dat die departement 'n ondersoekspan gestuur het om monsters van die karkasse te neem vir forensiese ondersoeke.

Die publiek word ook deur die owerhede versoek om behulpsaam te wees met die ondersoek en wetstoepassers van enige verdagte aktiwiteite wat daarmee te doen het, aan te meld.

Die Konfederasie vir Jagtersverenigings van Suid-Afrika (CHASA) het verskeie riglyne rondom wettige jagprosedures waneer daar vir vleis- of biltongdoeleindes gejag word, beskikbaar gestel.

Daarin word genoem dat elke provinsie uiteenlopende regulasies in plek het en dat jagters vooraf seker moet maak wat van toepassing is voordat die eerste skoot gevuur word.

Die Natuurbewaringsgesag van elke provinsie kan genader word vir meer spesifieke inligting en voorwaardes.

Volgens CHASA geniet omheinde plase nie noodwendig vrystelling van jaglisensies geniet nie. Daar is ook spesiale permitte nodig vir sekere spesies wild.

Verwyderingsertifikate moet ook in gevalle bekom word.

KLIK HIER vir meer inligting rondom kontaknommers, voorwaardes in ander provinsies en vrystellings.

Bronne: News24, bosveldjagters.co.za, phasa.co.za