Die ondersoekbeeampte, Lesiba Ramaru, is deur die staat geroep om Maandag getuienis te lewer. Hy getuig dat daar merke aan die linkerkant van Rameez se nek was, maar dat Rameez geen antwoord verstrek het toe hy daaroor uitgevra is nie.

Lesiba het die hof vertel dat hy vermoed het Rameez het dalk sy vrou geskiet. Hy het versoek dat Rameez vir kruitmerke getoets moes word.
Daar word aan die hof genoem hoe moeilik dit was om die klere wat Rameez ten tyde van die noodlottige dag, in die hande te kry.
Rameez het luidens berigte by sy oom se huis gaan bad en drie keer ander klere aangetrek. Hy het ook geweier om van die klere wat hy aangehad het aan die polisie te oorhandig. Volgens Lesiba is die klere in 'n plastieksak by Rameez se oom se huis gevind. Daar was bloedvlekke aan.
Konstabel David Nkuna, van die Westernburg-polisie se speurtak, het getuig dat Fatima se kop gedeeltelik in die badkamer was. Haar liggaam was in die rigting van die eetkamer gedraai. Rameez was nie in daardie stadium op die toneel nie. Hy het wel glo aan David gesê dat hy Fatima in 'n poel van bloed gevind het. Hy het ook glo aan David gesê dat Fatima op haar maag in die plas bloed gelê het.

Op die dag van haar dood was Fatima in 'n grys t-hemp en swart jeans geklee. Sy het ook skoene, 'n horlosie en haar trouring aangehad.

Die volgende het verlede week in die hof uitgekom:

Die patoloog dr. Arnold Mamashila het Woensdag, 19 Oktober 2016 in die hooggeregshof in Limpopo ontstellende getuienis gelewer rondom die moord op Fatima Patel.

Hy het getuig die verwurging, koeëlwond en beserings aan haar gesig kon tot haar dood gelei het. Arnold het voorts getuig hy kon geen verdedigingswonde vind wat daarop sou dui dat sy met haar aanvaller geworstel het nie. Die eerste polisieman op die moordtoneel is glo weens die een of ander rusie na die kompleks ontbied. Hy het bloed in die kombuis en badkamer gevind. Hy het ook getuig Fatima se man, Rameez, het geen emosie getoon toe hy hom na die lyk neem nie. Hy het Rameez as “kalm” beskryf. Die polisieman het ook sy verbasing uitgespreek dat iemand die huis sou binnekom, iemand sou vermoor en niks steel nie. Die brutale aanval op Fatima het haar min, indien enige kans, op oorlewing gelaat.

Intussen het twee sleutelgetuies vir die staat, ene Dannyboy en Sibongile, soos mis voor die son verdwyn.

Lt.kol. William Ramakgobedi, ’n lid van die provinsiale polisie se speurdienste, het Vrydag, 21 Oktober, aangedui dat hulle die twee glad nie kan opspoor nie.

Hoewel Rameez ontken het dat hulle 'n huishulp gehad het, was Sibongile die paartjie se huishulp toe Fatima vermoor is. Dannyboy het glo by een van die Patels se sakeondernemings gewerk. Beide is in 'n getuiebeskermingsprogram geplaas, maar hulle het nou verdwyn.

Volgens Netwerk24 het kapt. Regina Cecila Janse van Rensburg, ’n forensiese kenner in die polisie, getuig toetse is op ’n krieketkolf gedoen wat ’n bloedvlek opgehad het. Dit was egter nie moontlik om voldoende DNS van die spesifieke bloedvlek te kry nie. Volgens haar getuienis sou die gebruik van water of enige chemiese middel om die kolf te was, die bloedvlek kon laat vervaag het. Verskeie bloedmonsters het wel positief vir Fatima se DNS getoets. Die monsters is op die opwasbak in die kombuis, vloerteëls en die wasbak in die badkamer gevind. Elisabeth Stoltz, 'n forensiese kundige, het getuig dat kruitmerke afskomstig van 'n vuurwapen wel op Fatima gevind is, maar niks op Rameez nie.

Mudau het aangdui dat Rameez gebad en skoon klere aangetrek het nadat hy by Fatima se bebloede lyk was. Dit is glo omdat hy volgens sy geloof die aand moes gaan bid.

Bronne: Netwerk24, reviewonline.co.za