In so ’n mate dat Gayle McCormick net daar besluit het om uit te trek en op haar eie te gaan woon. Die egpaar was 22 jaar getroud. Die Britse koerant Independent berig Gayle, ’n Demokraat, was geskok toe sy tydens ’n ete saam vriende hoor hoe haar man vertel hy beplan om vir Trump te stem. Die 73-jarige voormalige tronkbewaarder het dit nog nooit voorheen oorweeg om van haar Republikeinse man te skei nie.

“Dit het my behoorlik ontstel dat hy vir Trump kon stem,” het sy gesê. “Dit voel of ek myself nog heeltyd vir die gek gehou het. Dit het nuwe dinge tussen ons ontbloot en ek het besef hoe ver ek in my lewe gevorder het om dinge te aanvaar wat ek nooit in my jonger dae sou aanvaar nie.” Gayle se man het later van plan verander en glo nie vir Trump gestem nie, maar sy het reeds haar planne begin deurvoer. Die egpaar gaan nog saam vakansie hou en gaan nie skei nie, want Gayle meen hulle is te oud daarvoor.

“Dit het maar net daarop neergekom dat ek nie 24 uur per dag, sewe dae per week, oor my siening wil redeneer nie. Ek wil dit nie vir die res van my lewe doen nie.”

Gayle woon nou op haar eie in Bellingham, Washington.

Volgens die Independent het ’n onlangse meningspeiling van Reuters/Ipsos aangedui dat meer mense met familie en vriende oor politiek baklei sedert Trump tot die nuwe Amerikaanse president verkies is.

Altesaam 16 persent van die 6 426 deelnemers aan die meningspeiling het gesê hulle het kontak met ’n familielid of vriend verbreek as gevolg van die verkiesing.