Wel, beslis nie vir hierdie paartjie nie.

’n Ontstoke trougas het op Mumsnet ’n verregaande e-pos van die pasgetroudes aan haar gedeel wat soos ’n veldbrand versprei het.

“Hulle het kontant gevra en ek het gedink ek het ’n heel skaflike bedraggie per tjek gestuur (dit was £100 – vir wie dit saak maak, hoewel ek nie voel dit behoort saak te maak nie),” het die vrou, ’n oudkollega van die bruid, op die forum gedeel.

wedding

Die aand voor haar inskrywing (gedateer Vrydag 6 Mei) het die vrou, vermoedelik van Engeland, ’n e-pos van die paartjie ontvang waarin hulle skryf: “Ons was verbaas dat jou bydrae nie jou goeie wense op ons groot dag weerspieël het nie. In die lig van jou posisie sou enige aanpassing wat jy sou wou stuur met dankbaarheid ontvang word.”

Die gas sê die e-pos het haar “heeltemal stomgeslaan” gelaat.

Sy sê hul verwysing na “jou posisie” het waarskynlik te doen met ’n onlangse erfporsie wat sy ontvang het, en dat die paartjie dalk verwag het om iets daarvan te kry (bygesê, die bruid is ’n ekskollega, nie ’n hegte vriendin of familielid nie).

“Asseblief, enigeen, wat staan my nou te doen? Ek het nog nooit met so iets te doen gehad nie en kan steeds nie glo hulle het dit gedoen nie, maar aangesien hulle het, wil ek weet: Moet ek antwoord, hulle bel, dit ignoreer, of wat?” sluit sy haar inskrywing af.

Natuurlik het mense dadelik vir die verwarde vrou raad gegee. “My aanpassing sou wees om die tjek te kanselleer! Parmantige bliksems!” het een geskryf, waarop die gas geantwoord het die geld is reeds gewissel.

Talle het die vrou aangeraai om bloot die e-pos te ignoreer, terwyl nog een gesê het: “Ek sou ’n e-pos terugstuur en as blinde afskrif (bcc) aan alle gemeenskaplike vriende stuur sodat hulle self die e-pos kan sien of ek sal ’n blinkertjiebom as ekstra stuur.”

Die gas het op die ou end ’n baie eenvoudige antwoord gestuur. “Dis hoogs onwaarskynlik dat ek in die toekoms vir B&G sal raakloop, want ek is nou afgetree, en dis waarskynlik maar goed so. Maar ek het met een sin op haar e-pos geantwoord: ‘Ek neem aan dit was een of ander fout dié?’ ”

Hoe sou jy gereageer het? Gee jou mening in die kommentaarafdeling van Huisgenoot se Facebook-blad.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Dramatiese toneel waar Durban-hotel op strandfront brand

Moontlik verdoemende getuienis teen Cliff Richard dalk binnekort bekend

‘Ek was reusagtig en het gevoel of ek stadige dood sterf,’ sê vrou wie se eks haar voer

70-jarige pensioenaris skenk die lewe aan haar eersteling

Sewejarige seun wat sy hare aan kankerpasiënte skenk word self daarmee gediagnoseer