Tony en Jeanette was per bus op pad vanaf Zimbabwe na Suid-Afrika toe hulle Donderdag, 2 Maart in die vroeë oggendure in Polokwane afklim.

Volgens Tony was die vulstasie daardie tyd van die oggend heeltemal verlate en hulle vra toe personeel daar om vir hulle ’n taxi te reël sodat hulle na ’n gastehuis of hotel kon gaan.

Kort daarna stop daar ’n ongemerkte motor langs die ma en seun en word hulle deur twee mans in die voertuig ingeboender. Die motor se deure is gesluit en die mans het deur Polokwane se verlate strate begin rondry.

Hulle het glo belowe hulle neem die ma en seun na goedkoop verblyf in die stad.

“Dit was egter baie ongemaklik,” onthou Tony die angswekkende oomblikke. Kort voor lank het hy daarop aangedring dat die mans hulle weer by die vulstasie gaan aflaai.

Daar aangekom het die partye begin redekawel oor hoeveel die mans betaal moet word vir die rit. Toe Jeanette haar beursie uithaal om die mans te betaal, is hulle met ’n panga aangeval en van R6000 beroof. Dit was hul laaste geld.

Die wrede aanval is op kringtelevisie vasgevang. Wees gewaarsku: dit kan sensitiewe kykers ontstel.

Tony moes sewe steke in sy linker- en regterarm kry nadat hy drie keer met die panga gesny is. Jeanette is ook ’n paar keer met die panga bygedam en het merke op haar hande en rug.

“Op daardie oomblik het ek net aan my ma gedink en aan maniere om haar te beskerm,” vertel Tony dae later aan Huisgenoot vanuit ’n gastehuis in Polokwane waar hulle tydelik tuisgaan.

“Ek het die heeltyd net baklei om te oorleef.”

Ná die aanval is Tony en Jeanette per ambulans na ’n plaaslike hospitaal geneem vir verdere behandeling. Hulle is Vrydag ontslaan.

Tony sê dis vir hom ironies dat hy en sy ma enkele ure ná hulle in Suid-Afrika aangekom het aangeval en besteel is. “Ons het juis hierheen gekom om ’n beter lewe vir onsself te maak.”

Die Densems is oorspronklik van Bulawayo. Hulle wil egter nou na Suid-Afrika emigreer en is in die proses om aansoek te doen.

[caption id="attachment_162206" align="alignnone" width="600"]Sue en Tony het albei erg seergekry. Foto: Verskaf Jeanette en Tony het albei erg seergekry. Foto: Verskaf[/caption]

Ten spyte van die aanval het hul planne om hulle hier te vestig nie verander nie. “Dit gaan beter vir ons wees. Minstens is hier geld en ’n toekoms,” sê Tony.

Die ma en seun droom daarvan om eendag in Kaapstad te woon. Tony kan sweiswerk doen en Jeanette is ’n boer en goed met diere.

Intussen sê Chris Botha, eienaar van die betrokke vulstasie, hy neem kennis van Donderdagaand se voorval. “Ek is baie omgekrap daardeur,” sê hy.

Op sy beurt sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, hy is nie bewus van die voorval nie, maar beloof dat die saak verder ondersoek sal word.