Die berugte Jakes Gerwel-rylaan in Kaapstad het al verskeie kere onder die soeklig gekom oor grypaanvalle waar goed uit motoriste se voertuig gesteel word. Maar nou het grypdiewe blykbaar ’n ander doel voor oë: om kinders pleks van handsakke te gryp.

Net dae nadat ’n gesin van Mitchells Plain hul gru-ervaring in Jakes Gerwel-rylaan gedeel het, het nog ’n paartjie met ’n identiese weergawe na vore gekom, berig Daily Voice.

Die paartjie van Surrey Estate verkies om anoniem te bly uit vrees. Hulle het glo die skok van hul lewe gekry toe hulle lees dat hulle nie die enigstes is wat slagoffers van dié nuwe tendens was nie.

“Dit was my dogter se verjaardag en ons was op pad huis toe. My ma het bestuur, ek was in die passasiersitplek en my dogtertjie in haar karstoeltjie.

“Toe ons ’n kruising nader, het ’n man by die venster verskyn. Hy het in die voertuig geloer en na agter gegaan, waar hy die venster stukkend geslaan en probeer het om my kind te gryp,” het die geskokte ma aan Daily Voice vertel.

Net soos die ander paartjie, het hierdie egpaar dit ook reggekry om van die misdadiger ontslae te raak.

Die twee voorvalle het onderskeidelik in Januarie en Julie plaasgevind.

Daar heers egter kommer dat dié soort misdaad ’n tendens kan word.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Sy sê: “ ’n Saak van poging tot roof uit ’n voertuig is geopen. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie is besig met patrollies in die area.”

Bykomende bron: Daily Voice