Kaithlyn Wilson van Riebeek-Wes in die Swartland, Wes-Kaap, het Sondag haar pienk sweetpakbroekie, haar Barbie Girl-langmou t-hempie aangehad en haar hare in ’n bollatjie op haar kop. Toe verdwyn sy . . .

’n Seun het haar na bewering die laaste keer gesien toe sy die bosse ingeloop het saam met haar ma se gewese kêrel.

Die gemeenskapspolisieforum (GPF) het Maandag meer besonderhede oor Kaithlyn se moord bekend gemaak.

Die ondersoekbeampte het een van die persone wat aanvanklik daarvan verdink is dat hy iets met haar verdwyning te doene gehad het, het die polisie na die misdaadtoneel op een van die naburige plase vergesel.

Kaithlyn se lyk is in ’n wit laken toegedraai gevind.

Intussen het Kaithlyn se familie na bewering bekend gemaak dat een van die verdagtes wat in hegtenis geneem is, haar ma se gewese kêrel is. Die polisie het Maandagmiddag nog nie die bewering bevestig nie.

Die twee verdagtes, 19 en 30 jaar oud onderskeidelik, sal op 1 Augustus in die hof op Malmesbury verskyn. Altwee gaan van moord aangekla word.

Die SAPD-bestuur van die Wes-Kaap het hul diepe kommer oor die grusame moorde van kinders in die provinsie uitgespreek. Hulle het weer eens beklemtoon dat misdaad teen vrouens en kinders ’n prioriteit bly.

Daar sal genadeloos jag gemaak word op oortreders wat hierdie misdade pleeg en hulle sal die volle aanslag van die gereg ervaar.