In nog ’n spanningsvolle dag is die borgtogaansoeke van die vier beskuldigdes wat van moord op drie mense in Krugersdorp aangekla word, Donderdag in die hof aangehoor.

Die media is nie toegelaat om foto’s te neem of opnames te maak tydens die verrigtinge nie.

Die advokaat van die 32-jarige beskuldigde (beskuldigde nommer 2) het aangedui hy gaan nie vir borgtog aansoek doen nie.

Adv. Victor Da Silva het versoek dat die media nie by die borgtogaansoeke toegelaat word nie. Die advokaat se argument was dat sy kliënte se verklarings onder meer die publiek tot heksejagtery kan aanspoor.

“Dit kan tot onregverdige verhoor lei indien die media besonderhede (soos name van getuies en adresse) publiseer. Reg kan dan nie geskied nie en dit kan die finale beslissing beïnvloed,” het hy aangevoer.

Landdros Delize Smith het egter aangedui die hof is ’n openbare plek waar geregtigheid deursigtig moet plaasvind.

Lees ook: Bloedjong tienermeisie en haar broer in hof vir Krugersdorp-moorde

Beskuldigde nommer 1 (Johannes Christiaan Kruger, 29), beskuldigde nommer 3 (Leroux Steyn, 20) en beskuldigde nommer 4 (Marcel Steyn, 18) is geleentheid gebied om verklarings rondom borgtog voor te lê.

Marcel het aangedui sy het na bewering reeds dreigemente van lede van die gemeenskap ontvang. Die beskuldigdes is glo ook gewaarsku om nie vir borgtog aansoek te doen nie.

Die drie wou nie die misdade waarvoor hulle aangekla word, bespreek nie.

Kruger het verklaar hy is gemartel en gedwing om ’n verklaring af te lê waarin beskuldigde nommer 2 geïmpliseer word. Hy beweer hy is onder meer deur die polisie deur die gesig geklap. In sy verklaring het hy gesê beskuldigde nommer 2 sou hom aangesê het om een van die slagoffers se hande vas te bind. Die polisie het glo ook gedreig om ’n plastieksak oor sy kop te trek.

Leroux het beweer hy is gemartel en dat hy ’n verklaring moes aflê met ’n gasmasker op sy gesig.

Marcel het albei beskuldigdes se bewerings van marteling gesteun. Volgens haar verklaring is haar hande en voete aan ’n stoel vasgebind terwyl die polisie haar glo met versmoring en verkragting gedreig het.

Die staat se verklaring het skokkende bewerings bevat.

?Anthony Scholefield ?’n Bedrag van R9 600 is uit sy bankrekening onttrek. Sy bankkaarte is die volgende dag by ’n slaghuis, klerewinkel en kafee gebruik. Sy beursie, skootrekenaar en selfoon is gesteel.

Kevin McAlpine

’n Bedrag van R1 300 is uit sy rekening onttrek. Sy beursie, skoene en trouring is gesteel.

Hanle Lategan

Sy is op 30 Mei om 18:01 die laaste keer gesien. Teen 18:30 is ’n bedrag van R3 000 uit haar rekening onttrek. Haar handsak, iPad en trouring is gesteel.

Kruger kan na bewering ook met sekere selfoonrekords verbind word. Die Steyns (broer en suster) kan duidelik op geslotekring-televisie by ’n OTM gesien word.

Volgens die staat het Leroux erken hy het die slagoffers met ’n mes gedreig voor hulle met ’n tou verwurg is.

Marcel moes die PIN-kodes van die slagoffers se bankkaarte verifieer.

Hul ma se motor is ook deursoek vir DNS wat hulle aan die moorde kan verbind.

Die staat het genoem ’n foto van Hanle se liggaam was glo op Marcel se selfoon. Sy het glo geweier om haar selfoon aan die polisie te oorhandig.

Die viertal bly tot 13 Julie in aanhouding.

Bronne: krugerdorpnews.com, mydigitnews.com