Sy klasmaats bydie Universiteit Stellenbosch se department joernalistiek het hom aangewys as die ou met die grootste kans om by Huisgenoot te gaan werk, want hy het dan gedink die tydskrif is so wonderlik – en 10 jaar later het hy hulle reg bewys.

Maar jy sal nie sy naam in Huisgenoot sien nie, buiten nou dié keer, want hy is eerder ’n aanlynmens, ’n agter-die-skerms soort ou. As jy gewonder het wie jou vrae op huisgenoot.com en Facebook beantwoord – ontmoet Wilmer Müller, ons nuwe webredakteur, die man agter die muis.

Hy is die ou wat jou die varsste nuus bring op ons nuwe webtuiste, en dis vir hom heerlik om die Huisgenoot-gemeenskap aanlyn daagliks te sien groei.

“Ons lesers kommunikeer nie net met ons nie, maar ook met mekaar,” sê die 33-jarige joernalis. “Daar is soveel uiteenlopende menings en ons wil mense aanmoedig om dit te lug; ons wil ons lesers nog meer met ons laat gesels.”

Hy is dol oor hoe lesers oor Huisgenoot voel. “Hulle voel die tydskrif behoort aan hulle en het baie sterk menings – en hulle skroom nie om dit te lug nie! Dis juis wat my werk so ’n wonderlike ervaring maak.”

Wilmer is nou al agt jaar in die aanlynbedryf en was redakteur van die motorwebtuiste wheels24.co.za voor hy by Huisgenoot ingeval het. Hy is passievol oor digitale nuus, maar verlang tog soms na die adrenalieninspuiting wat jy by die gedrukte media kry.

“Ek het as nuusjoernalis by Die Burger gewerk en ons moes ’n spertyd haal om die koerant op straat te kry. Met die net het jy nie ’n produksieproses nie, en daarom is jou spertyd wanneer jy dit wil hê.”

Wanneer hy nie slim, nuwe maniere vind om lesers se aanlynervaring te verbeter nie, ontspan hy tuis in Groenpunt, Kaapstad, saam met sy geliefde beagle-honde, Truffle enNguni.

“Nguni lyk soos ’n klein koei en Truffle is na die eksotiese soort swam genoem waaroor lekkerbekke so gek is,” verduidelik hy.

Vra hom oor sy liefdeslewe en hy bloos net en sê beslis: “Geen kommentaar!”

Maar hy vertel jou graag hy is gek oor heerlik eet, en sy gunstelinge is Franse bistrokos en Italiaanse kos – na gelang van sy bui. Hy reis ook graag en sê Australië is die land met die beste kos ter wêreld.

“Hulle het so baie invloede, veral Oosters.”

In sy paspoort is ook stempels van plekke soos Amerika, Italië, Spanje, Griekeland, Duitsland, Madagaskar en Mosambiek – en hy is nog lank nie klaar nie, sê hy.

“Ek wil Parys sien en dalk eendag per motor deur Amerika reis.”

Sy gunsteling-stad? “New York. Dis soos alles wat jy op TV sien, maar ook nie. “Dis soos ’n mini-landjie op sy eie. Daar is soveel fantastiese geboue en mooi mense en dis so gek en divers dat ek dit verskriklik aantreklik vind.”

Maar sy voete is stewig op Suid-Afrikaanse grond geplant en hy geniet dit om deur Facebook en huisgenoot.com meer oor Huisgenoot se lesers te wete te kom. Dit was wel vir hom ’n hartseer oomblik toe hy hoor hy het die werk gekry, want dit het herinneringe aan sy ma, Dalene, teruggebring.

Dalene was hoofsubredakteur by Huisgenoot en is drie jaar gelede aan kanker oorlede.

“Sy het soveel respek vir die tydskrif en haar kollegas gehad,” sê Wilmer. “Dit was vir my emosioneel om hierheen te kom, maar op ’n goeie manier.”

Noudat hy ook by die Huisgenoot-familie aangesluit het, het hy groot planne vir ons lesers.

“Wanneer jy die webtuiste besoek en vir ons sê wat jy dink, help jy om jou stempel op die tydskrif af te druk,” sê hy.

“Jy, die leser, gaan wonderlike inhoud help skep.”