[caption id="attachment_115029" align="alignnone" width="600"]Foto: Jeanette Chabalala, News24 Foto: Jeanette Chabalala, News24[/caption]

Zonkie se eienaar, Bertie Roux , beskryf hom as die dierbaarste lid van die Roux-perdryfamilie. Volgens Roux is hy besonder trots op die vierjarige Zonkie se dissipline.

Hy woon by Roux Horsemanship op ’n kleinhoewe in Ferreira, by Bloemfontein.

Lees ook: Hondesalon ruil per ongeluk honde om

Volgens Roux kom Zonkie nader wanneer hy ’n vreemde gesig sien en vryf sy lyf teen die persoon as vriendelike teken van verwelkoming. Slegs liggaamstaal is gebruik om hom mak te maak.

Uiters skaars

“Wanneer ons braai, kom hy eenvoudig nader en ontspan saam met ons – en hy nader my vrou dikwels van agter af, sit sy kop teen haar nek en druk haar net – so asof hy haar wil nadertrek na hom toe,” vertel Roux.

“Hy is ook dol oor ysblokkies en wortels.”

Dié kruising tussen ’n sebra en ’n donkie het die kop en lyf van ’n donkie en die bene van ’n sebra.

Roux het gesê hulle het hom nooit geleer as ry- of werkdier nie en hy sal nie vir teeldoeleindes gebruik word nie.

Lees ook: Reëls en raad uit die diereryk

Buiten dat hy vriendelik en liefdevol is, het Zonkie die gesin se waghond geword en geniet hy sy vryheid, het Roux vertel.

“Dit was eintlik baie moeilik vir hom om vry te wees toe ons in Bainsvlei gewoon het, maar noudat ons hier in Ferreira is, beperk ons hom glad nie; hy is net ’n gelukkige Zonkie.”

Sebradonkies (“Zonkeys”) kom ook in die natuur voor, aangesien troppe wilde donkies en sebras saam ’n bestaan voer in dele van Afrika. Tog is hulle uiters skaars.

Bron: News24