Sy is blind, haar agterpote vol artritis is permanent geboë en haar ruggraat is teen ’n hoek van 90º krom

Honde van oral ter wêreld het om die titel meegeding by die jaarlikse wedstryd wat op die kermisterrein van die distrik Sonoma-Marin in Kalifornië ter ere van “huislike honde” gehou is.

Maar die bejaarde chihuahua het die beoordelaars verstom.

Volgens ’n plaaslike koerant het die beoordelaars besonder beïndruk gelyk met ’n seer aan Sweepee se been en opgemerk honde kry ekstra punte as hulle sere het waaruit vloeistof syfer.

Maar haar eienaar, Jason Wurtz, was woedend oor die opmerking en het gesê liggaamsvloeistowwe (wat van ’n ander hond afkomstig was) het niks daarmee te doen gehad nie. Hy meen sy geliefde 17-jarige troeteldier het die titel gewen danksy haar “babasagte, besproete vel en legendariese blonde Mohawk”. “Sy is ’n kanniedood.” Die beplooide, benerige Chinese kuifkop-chihuahua met yl hare was ’n geskenk aan sy eksvrou, het Jason aan ABC News gesê.

Dit was vanjaar die derde keer dat Sweepee aan die, um, skoonheidswedstryd deelgeneem het, maar die eerste keer dat sy gewen het.
“Die gehoor het gaande geraak oor die blouoog-hond en party mense het plakkate vasgehou waarop staan ‘Sweepee vir president’ ”, het Karen Spencer, die bemarkingsdirekteur van die Sonoma-Marin-kermis, aan die New York Times gesê. Sweepee het 16 ander deelnemers uitgestof in vanjaar se wedstryd, onder andere Icky die akneehond, Rascal Deux en Himisaboo (wat aandag getrek het danksy sy treffende ooreenkoms met Donald Trump).

Tydens die wedstryd wat al 28 jaar lank aangebied word, word punte toegeken vir die honde se persoonlikheid, voorkoms en, die belangrikste van alles, hoe die gehoor op hulle reageer.

Kragtens die streng reëls van die wedstryd “mag diere nie met opset verander word om hul voorkoms vir die doel van die wedstryd te verbeter nie”. Dit is nie verbasend nie, in ag genome dat prysgeld van sowat R22 000 en ’n reusetrofee op die spel is.

Volgens Erin Post, uitvoerende hoof van die Sonoma-Marin-kermis, is die doel van die wedstryd om te wys “ongeag [die honde se] tekortkominge, is hulle aanneembaar, liefdevol en ’n wonderlike toevoeging tot enige gesin.”

Het jy ’n troeteldier wat by Sweepee kan kers vashou? Stuur ’n foto na web@huisgenoot.com

Bronne: The Guardian, The New York Times, ABC News