In ’n stadium was mense bekommerd oor hul skielike verdwyning, maar toe die Werkersparty van die “kluisenaarskoninkryk” onlangs hul eerste kongres in 36 jaar hou, was hulle wel daar om die opperleier se lof te besing: Moranbong, ook bekend as Noord-Korea se antwoord op die Spice Girls.

Eintlik moet ’n mens sê Kim Jong-un se teenvoeter vir die Spice Girls. Die eksentrieke diktator, wat nou weer “partyvoorsitter” by sy magdom titels kan voeg, het elke lid van dié vrouepopgroep persoonlik aangewys.

Moranbong se konsertklere wissel tipies van ’n militêre voorkoms tot kort rompies -- net gewaagd genoeg om vergelykings met Suid-Korea se “K-pop”-groepe te ontlok.

Maar al is hulle bekend vir unieke weergawes van Westerse treffers soos Eye of the Tiger en My Way, het hulle nou by daardie onlangse kongres hoofsaaklik gesing oor hoe Noord-Korea die wêreld niks beny nie, en die glorie en goeie lewe wat die party oor jare heen vir sy mense gebring het.

Huldeblyke aan die drie Kim’s (ook Kim Jong-il en Kim Il-sung, die opperleier se pa en oupa) en applous asof die gehoor se lewe daarvan afhang, was aan die orde van die dag.

Taamlik min is bekend oor die eerste vrouemusiekgroep van die geheimsinnigste staat ter wêreld. Waarnemers reken Kim Jong-un, ook ’n groot sportliefhebber en aanhanger van die Amerikaanse basketbalster Dennis Rodman, wou so probeer wegbeweeg van sy pa se kenmerkende mega-staatsorkeste.

Die Moranbong-vroue ken hul passies en is blykbaar ook bedrewe met ’n hele reeks musiekinstrumente, van elektroniese viole en baskitare tot saksofone en tromme. Maar hul repertoire val nie in almal se smaak nie. Een ou wat ’n ontleding van hul musiek gedoen het, reken hulle “klink soos ’n geselsprogram-orkes uit die 1970’s wat aangesê is om tyd op te maak”.

In ’n stadium was daar vrae oor Moranbong se lot toe waarnemers van Noord-Korea besef daar is twee maande lank niks van die groep, ook ’n gereelde gesig op staatstelevisie, gesien of gehoor nie. Die opperleier het immers ’n donker verlede rakende enigeen wat by hom in onguns verval. Gelukkig was hulle verniet bekommerd.

Die vroue, wat deur Noord-Korea se staatsnuusagentskap as ’n groep bestempel word wat “wêreldwyd stylvol” is, het amper verlede maand hul eerste internasionale toer voltooi. Hulle was in China, Noord-Korea se enigste bondgenoot, om ietwat gespanne vriendskapsbande met hul musiektalent te gaan verstewig.

Maar hulle het toe nooit opgetree nie en China met ’n taamlike vaart verlaat. Suid-Koreaanse media het bespiegel dit was omdat “Lil’ Kim” hom vervies het nadat China die status van ’n Noord-Koreaanse afvaardiging daarheen afgradeer het -- uit protes oor sy kernbom-grootpratery.

Ander stories op Huisgenoot.com

Verlamde Lindense skoolseun eindelik tuis vyf maande ná duikongeluk

Vlieënier sterf en passasier oorleef in derde vliegongeluk in twee dae

Wellington treur ná skokdood van geliefde inwoner Winnie Rust

‘Dapper’ sewejarige kap kop oop nadat hy uit bewegende trein gesuig word

Hierdie gr. 2-wiskundevraag slaan almal dronk – kan jy dit oplos?