Die oud-Bok Joost van der Westhuizen se J9-stigting stel vanaand hul eksklusiewe klerereeks by die Coco Bongo-restaurant in Montecasino, Johannesburg, bekend en jy kan die rugbyheld daar ontmoet.

Die verrigtinge sluit ’n modeparade in en die voormalige Mej. SA Melinda Bam en haar kêrel, die voormalige Mnr. SA Adriaan Bergh, is van die modelle. Twee van Joost se privaat rugbygedenkwaardighede sal ook opgeveil word. Alle geld wat ingesamel word, is ten bate van die J9-stigting. Joost het dié hulporganisasie begin nadat motorneuronsiekte by hom gediagnoseer is.

Van die ander glanspersoonlikhede wat die aand gaan meemaak, is Loui Fish en die rugbyspeler Schalk van Heerden, die sangers Pieter Koen, Dewald Wasserfall en Willem Botha, die huidige Mej. SA, Marilyn Ramos, en die voormalige Mev. SA Lynné de Jager. Corlea, Garth Taylor, Kinky Robot en die internasionale platejoggie Lady Lea gaan sorg vir die vermaak.

“Ons vier vanaand die held Joost van der Westhuizen. Ons nooi mense om Joost te kom ontmoet en te kom ontspan met heerlike vermaak,” sê die publisiteitsbestuurder Janis Ellis.

Martin Bester van Jacaranda FM is die aanbieder. Daar is net 200 plekke oor en kaartjies kan teen R250 by die deur gekoop word. Dit sluit drankies en peuselhappies in. Die drag is semi-formeel.