Enige ma raak uitgehonger vir volwasse geselskap en interaksie. Enkelma’s sit dikwels met die dilemma dat kinders al hul aandag verg en hul min tyd gun om ander volwassenes te ontmoet.

Of jy ’n maat wil vind of dalk net nuwe vriende wil maak, enkelma’s kan  wel by ’n volwasse vriendekring en verhouding inskakel.

Estelle Prinsloo, ’n berader by Families Suid-Afrika (Famsa) in Johannesburg, sê die twee belangrikste wat jy in gedagte moet hou, is jou veiligheid en dat jou verwagtinge realisties moet wees.

“Moenie onmiddellik ’n verhouding verwag nadat jy iemand ontmoet het nie. ’n Vriendskap en ’n verhouding verg tyd; ontmoet mekaar dus eers ’n paar keer en leer mekaar ken sodat die verhouding kan groei.”

1.    Ontmoet iemand sweet-sweet

As jy beplan om weer die wêreld aan te durf van eerste afsprake en die onsekerheid van of iemand jou gaan bel, wil jy mos hoeka op jou beste lyk. As jy tyd inruim vir oefen, sal jy die selfvertroue hê om weer mense te ontmoet en boonop dalk ook ’n maat of twee maak. Wees op die uitkyk vir mense wat gereeld dieselfde klasse as jy in die gim bywoon. Julle het duidelik reeds jul liefde vir spesifieke oefening gemeen; daarom deel julle dalk selfs nog belangstellings.

Hoe gemaak met die kinders? “Die gim is baie prakties, want jou kinders kan saamgaan,” sê Estelle. Talle groot gims het deesdae ’n crèche waar jy die kinders kan aflaai. So nie, reël jou oefentye so dat dit saamval met jou seun se rugby-oefening en jou dogter se balletklas.

2.    Speel saam met die kinders

Wanneer jy ouers in die speelpark ontmoet, kan jy gehaltetyd saam met jou kinders deurbring én hul maats se ouers leer ken. Gesels met mede-ouers in die speelpark oor hul kinders, tydverdryf en werk, en ruil ouerskapswenke en -raad uit. So sal jy nuwe mense bevriend en agterkom of daar nie dalk ’n potensiële maat in die speelpark is nie. Maar moet ook nie net oor die kinders gesels nie; praat ook oor grootmensdinge en waak teen verhoudings aanknoop met die ouers van jou kinders se maats. Dit kan die kinders ongemaklik maak en hul vriendskap kelder as julle s’n dalk doodloop.

Hoe gemaak met die kinders? In dié geval hoef jy geen voorsorg te tref om die kinders besig te hou nie, want hulle gaan waarskynlik so besig wees in die speelpark dat hulle vergeet jy is daar.

3.    Klik-klik na nuwe liefde

Internetromanse en webtuistes vir enkellopendes klink uitdagend, maar kan besonder doeltreffend én veilig wees, mits jy die riglyne volg. Stel ’n profiel op en wees eerlik en duidelik oor jou verwagtinge, belangstellings en persoonlikheid, maar weet ook watter inligting jy liefs vir jouself moet hou. Dit geld ewe veel vir besonderhede wat jou veiligheid in gedrang kan bring as vir persoonlike inligting wat potensiële maats kan afskrik.

“Onthou net dat jy altyd iemand die eerste paar keer in ’n veilige, openbare ruimte moet ontmoet en iemand betroubaars moet laat weet waar jy is,” waarsku Estelle.

Hoe gemaak met die kinders? Dis heerlik dat ’n mens webtuistes vir enkellopendes kan besoek in die gemak van jou huis, waar jy sommer ook ’n ogie oor jou kinders kan hou.

4.    Deel jou belangstellings

“Dis waarskynlik die beste plek om iemand te ontmoet,” meen Estelle. Sy sê klubs en groepe is veeldoelig, want jy doen iets vir jouself deur jou stokperdjie te beoefen, maar kan ook ’n maat ontmoet. “As jy besonder passievol is oor ’n sport, tydverdryf of belangstelling, gaan jy heel moontlik iewers naby jou mense teëkom wat jou liefde daarvoor deel. Of dit nou brei is of langafstandhardloop of nuwe tale aanleer, sluit aan by ’n groep en ontmoet so nuwe mense. Julle kan ná werk of naweke bymekaarkom en jul gedeelde belangstelling gebruik as ’n aanknopingspunt vir ’n vriendskap.

Hoe gemaak met die kinders? Afhangende van jou stokperdjie, kan jy die kinders saamneem. Tien teen een word daar ook lesse vir kinders aangebied.

5.    Blitsafsprake

Die grootste voordeel van blitsafsprake is dat selfs die besigste ma tyd kan inruim vir ’n vinnige ontmoeting met iemand. As die persoon jou verveel, hoef jy gelukkig net ’n kort rukkie in sy geselskap deur te bring. Maar as jy belangstel, kan jy natuurlik ’n langer opvolg-afspraak reël. Met blitsafsprake is jy ook daarvan verseker dat die ander persoon ’n verhouding of maat soek. Estelle stel voor jy nooi ’n enkellopende vriendin of nog ’n enkelma saam. “Dan hoef jy nie die afsprake alleen te trotseer nie en het jy iemand daar vir ondersteuning. “Dit is boonop veiliger as iemand saam met jou gaan.”

Hoe gemaak met die kinders? Dit is nou die een keer dat jy wel ’n oppasser sal moet kry of jou buurvrou of suster gaan moet vra om ’n ruk lank na jou kinders om te sien.

Hoe jy ook al kies om iemand te ontmoet, onthou dat jou en jou kinders se veiligheid altyd die swaarste weeg. En as jy besluit jy is doodgelukkig sonder ’n man in jou lewe, nooi ’n paar vriendinne na jou huis (laat die kinders saamspeel) en klink ’n glasie op jou besluit.

- Mieke Vlok