SY HET die oproep in November gekry. Dink daaroor, het die mens aan die ander kant van die lyn gesê; daar’s geen haas nie.

Maar was daar nou eintlik iets om oor te dink? Soos sy dit stel: As jy in die vermaakbedryf so ’n aanbod kry, tob jy nie lank daaroor nie.

Die werk wat Unathi Msengana aangebied is, was natuurlik om ’n Idols-beoordeelaar te word, om die res van die paneel te help om ’n nuwe groep jong mense met sterre in hul oë te help om die eerste treë op die pad na roem en rykdom te help.

Sy’t toe gou vir M-Net teruggebel om te sê ja, dankie, sy neem graag deel aan die nuwe seisoen van die gewilde talent-reeks. En daarmee was die gissinge oor die toekoms van die omstrede Mara Louw, tot nou mede-beoordelaar, ook op ’n einde.

Mama Mara is haar plek kwyt om die program te vernuwe, het M-Net verduidelik, maar die vermoede is dat die veteraansanger en aktrise eintlik nie meer welkom was op die paneel nie, veral nadat sy laat in verlede seisoen duidelik onder die invloed op die program verskyn het.

Sy het later erken sy het pynstillers met wodka afgesluk.

Kykers het Mara ook al dikwels van rassisme beskuldig – en sy op haar beurt vir hulle. Idols sal nooit ’n swart wenner hê nie, het sy gesê, “want dis op DStv en wit mense stem vir wit mense en swart mense trek aan die kortste end”.

Nou gaan Unathi die uitgesproke Mara se plek langs Gareth Cliff en Randall Abrahams inneem.

“Dit gaan opwindend wees,” sê sy. “Dit gaan ook moeilik wees, want ek hou nie daarvan om mense teleur te stel nie.”