Dit is Graham. En jy sal soos hy moet lyk om ’n motorbotsing te oorleef.

Al lyk hy skrikwekkend realisties, is hy bloot ’n beeldhouwerk wat as deel van ’n veldtog oor padveiligheid ontwerp is.

Die veldtog, wat deur die vervoerongelukkommissie van Australië (TAC) bestuur word, toon gedeeltelik hoe broos die mens se liggaam is.

“Al wil ons hoe graag dink ons is onoorwinlik, is ons nie,” verduidelik die Project Graham-webtuiste.

“Die waarheid is motors het baie vinniger ontwikkel as ons. Die sterkste man kan nie keer dat hy in ’n motorongeluk vorentoe beweeg nie.

“Maar sê nou ons verander? Sê nou ons liggaam was gebou om ’n lae-impak-ongeluk te oorleef? Hoe sou ons lyk? Die antwoord op die vrae is Graham, wat ons daaraan herinner hoe kwesbaar ons liggaam eintlik is.”

In ’n persverklaring sê Joe Calafiore, uitvoerende hoof van TAC, Graham is “ ’n opvoedkundige hulpmiddel wat die gemeenskap nog jare lank sal dien as ’n herinnering aan hoekom ons ’n veiliger padstelsel moet ontwikkel wat ons sal beskerm wanneer sake skeefloop.”

Die interaktiewe beeldhouwerk is geskep deur ’n span wat bestaan uit ’n traumachirurg, ’n kundige wat ongelukke ondersoek en ’n kunstenaar van Melbourne.

Hulle het Graham met ’n “redelik plat gesig” ontwerp om die energie van ’n botsing te absorbeer.

Soos jy dalk opgemerk het, het hy ook nie ’n nek nie, want in ’n botsing “sal baie dele van die liggaam aanhou beweeg weens die oordrag van energie. Die kop is een daarvan.”

“Daar is nie genoeg krag in die nek om te keer dat die kop vorentoe ruk in ’n ongeluk nie”.

“Uit my gesprekke het ek geleer die nek is ’n ware probleem. Toe raak ek eenvoudig daarvan ontslae,” verduidelik die kunstenaar Patricia Paccinini.

Die beeldhouwerk is ook met “sterker ribbe” geskep “om hom beter beskerming in ’n botsing te bied”.

"Sy borskas is groot en vaatjie-agtig om groter impak te weerstaan. Maar sy bolyf is eerder lugsak-agtig as harnas-agtig,” verduidelik dr. David Logan op die interaktiewe webtuiste. .

In sy bene en voete het Graham ’n “ingeboude verdediging,” verduidelik die TAC-span.

“Sterk, hoefagtige bene met bygevoegde gewrigte om hom op ’n ‘veergelade’ manier vinnig uit die pad te laat spring.”

Klik hier om met Graham in aanraking te kom.

Bronne: meetgraham.com.au, youtube.com