Dié aantreklike ster van One Direction het Woensdag die eerste foto’s van sy babaseun op Twitter gedeel.

Die 24-jarige Louis Tomlinson het ook trots bekendgemaak sy seun, wat hy by ’n eks verwek het, gaan sy van dra.

By die intieme foto waarop sy baba op sy kaal bors lê, het Louis geskryf: Ontmoet my laaitie, Freddie. Lees ook: Kyk net hierdie bekendes se verborge talente Louis se eksmeisie Briana Jungwirth (ook 24) het op 21 Januarie die lewe geskenk in Los Angeles, waar sy woon. Die sanger het ook sy aanhangers bedank vir al die briefies van ondersteuning wat hy gekry het met die geboorte van sy eersteling.

Intussen het Briana ook ’n foto van die kleinding op haar Instagram gedeel, waarin sy onthul het Freddie se tweede naam is Reign. Louis is omtrent opgewonde oor die gedagte van pa word. ’n Paar dae ná Freddie se geboorte het hy ewe oulik getwiet: “Daddy daddy cool”.

Gerugte het voor die geboorte die ronde gedoen dat Louis der miljoene bestee het aan ’n luukse woning vir Briana en Freddie, maar dit het intussen aan die lig gekom dat dié multimiljoenêr ’n doodgewone drieslaapkamerhuis vir Briana en Freddie gehuur het. Briana, wat as ’n stilis werk, het self vir die meubels in haar nuwe woonplek betaal.

Daar word ook gegis dat Louis deesdae aan die sy van ’n nuwe meisie, die aktrise Danielle Campell (20), gesien word. Dié tweetjies huur glo ’n woonplek nie te ver van Briana af nie sodat Louis te alle tye naby sy seun kan wees.

Hoewel dit nog nie bekendgemaak is hoeveel Louis gaan opdok aan onderhoud vir Freddie nie, word so ’n bedrag volgens wetgewing in Kalifornië bepaal deur die pa se finansiële vermoë en die kind se belange.

Lees ook: 7 beroemde pare wie se weë skei en weer bymekaarkom

Al het Louis en Briana se verhouding skipbreuk gely, meen bronne na aan hom hy beskou haar steeds as “’n wonderlike vrou en ma”.

Louis se mannegroep, One Direction, het verlede jaar aangekondig hulle neem ’n blaaskans vir minstens ’n paar jaar. Hulle het wel gister ’n nuwe musiekvideo uitgereik vir hul treffer History, waarin argiefmateriaal die verhaal vertel van One Direction sedert hul beginjare.

Bronne: Mirror, Daily Mail, ETOnline