Adrianne Lewis (18) van Twin Lakes, Michigan, glo vas sy het die wêreld se langste tong. Kompleet soos ’n reptiel spog dié tiener met ’n allemintige praatspier van 10,16 cm. Haar tong is so lank, sy kan gemaklik haar neus, ken en selfs haar elmboog en oog lek.

Foto’s van Adrianne se indrukwekkende tong het onlangs soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Dit het die beroemde Guinness Book of World Records genoop om ondersoek in te stel of Adrianne se aanname dat sy die langste tong het, juis is.

Volgens die rekordboek het Nick Stoeberl, ook ’n Amerikaner, die wêreld se langste tong. Syne is 10,1 cm lank. Sou hulle bevind Adrianne se afmetings is korrek, sal sy die nuwe rekordhouer wees.

Adrianne sê sy is oorstelp deur al die aandag wat haar tong nou in die media ontvang. Dié agtienjarige sê dit is jammer watter lelike kommentaar sommige internetgebruikers op van haar video’s maak.

Op haar Twitter-profiel, @LongTongLewis, het sy vroeër laat hoor: “Ek voel sleg vir glanspersoonlikhede wat elke dag in die kollig deurbring. Jy moet soveel snert van mense verduur, en dis onregverdig.”

Kyk hier na die video:

Bronne: Twitter; news.com.au; gawker.com