Die skattige Lyla-Grace Barlow sukkel met ’n haarsindroom wat haar hare onkambaar maak, en wat net 100 mense wêreldwyd affekteer.

Lyla se haarfollikels is hartvormig pleks van rond op haar kopvel en dit word deur ’n gemuteerde geen veroorsaak. Dit beteken haar hare is grof en het ’n draderige tekstuur.

Wanneer haar ma, Alex (28), dus haar hare probeer kam, keer dit net weer terug na hul oorspronklike statiese toestand. 

“As jy normale hare borsel, sal dit platlê, maar soos jy Lyla se hare borsel, bly dit regop staan. Dit lyk asof dit gekartel is,” sê Alex.

Die hare het Lyla die bynaam “spookasem-kind” besorg. 

Alex sê sy sal haar kind se hare vir niks op aarde verruil nie, veral aangesien sy dieselfde haargeen as die wetenskaplike Albert Einstein het.

Lyla se ma het besluit om haar soos Albert Einstein vir Halloween aan te trek omdat sy gemeen het daar sou nie baie kinders wees wat die voorkoms sonder ’n pruik sou kon laat werk nie.

Lyla-Grace is al een in haar gesin met hierdie seldsame haarsindroom. Haar susters, Emelia (7) en Nancy-Rose (2), het albei normale, reguit bruin hare.

“Almal in die familie het mooi, normale donker hare en toe kry ons hierdie blonde kleinding in die middel,” sê sy.

“Ek het al drie gevalle in my loopbaan van 38 jaar gesien,” sê dr. Andrew Messenger, konsultant-dermatoloog by die Royal Hallamshire-hospitaal in Sheffield.

Alex sê sy moedig Lyla-Grace aan om haar hare te aanvaar nes dit is omdat dit “seldsaam en pragtig” is.

Bronne: mirror.co.uk, dailymail.co.uk