In die M-Net-realiteitreeks My Kitchen Rules (MKR) South Africa wat Sondagaand afskop, gaan David Higgs en J’Something op ’n reis om die land se beste huiskokke op te spoor.

Vyf spanne van twee gaan elkeen ’n beurt kry om hul huise vir ’n aand in ’n restaurant te omskep. Daar word van hulle verwag om ’n driegangmaaltyd vir die beoordelaars en hul mededeelnemers voor te berei waarna dit beoordeel sal word.

Dis nie al nie. Hope opwindende uitdagings gaan by die kompetisie-mengsel ingevou word tot waar die top-twee spanne hulle beste disse aan ’n propvol restaurant sal voorsit.

J’Something, eienaar van Something’s Cooking by J in Pretoria en die hoofsanger van die gewilde musiekgroep Mi Casa, sê sy “top kombuisreël - en die enigste een wat tel -  om met liefde en geluk te kook”.

“Jou gaste kan dit proe in die finale produk.”

J'Something is een van die beoordelaars op My Kitchen Rules SA

David, eienaar van Marble-restaurant in Johannesburg, sê die kompetisie gaan vir hom oor spanwerk.

“As een spanlid af voel, is dit die ander een se verantwoordelikheid om die stukke op te tel, en vice versa. En natuurlik moet die deelnemers goeie kos voor sit – konsekwent.” 

David Higgs is een van die beoordelaars van MKR SA.

Ons het ook ingeloer by die vyf spanne wat van Sondag af op die kassie gaan meeding om gekroon te word as die eerste MKR-wenners.


Lani en Louzel, ma en dogter, van ’n plaas in die Cradock-distrik

Lani (naas links) en Louzel saam met die twee beoordelaars, David Higgs (links) en J'Something.

Hoe het julle besluit om vir die kompetisie in te skryf?

Louzel: Ek en my man het die advertensie op M-Net gesien en hy het onmiddellik gesê dat ek moet inskryf.

Toe ek my ma bel om te hoor of sy saam met my sal deelneem, het my pa haar reeds aangemoedig om ook in te skryf. Ons het net daar besluit om die avontuur saam aan te pak.

Waar kom julle liefde vir kos vandaan?

Lani: Myne het begin toe ek destyds getrou het. My skoonfamilie is ’n familie wat van kosmaak hou. Ek het altyd van kos gehou, maar my ma is ’n kunstenaar en kosmaak was nie so groot prioriteit nie. Toe ek trou moes ek leer kook en dit het vinnig ’n groot passie geword.

My ouma en oumagrootjie se passie vir kosmaak is deur die generasies oorgedra.

Louzel: Ek is gebore in ’n familie van formidabele vroue wat goed kan kook. Dit is in my DNS. Ek het gehou van kosmaak vandat ek kan onthou.

My ouma en oumagrootjie se passie vir kosmaak is deur die generasies oorgedra. In hulle jare was dit ’n noodsaaklikheid om te kook en selfonderhoudend te wees op afgeleë plase. Jy kon nie mors met kos nie.

As jy botter gesoek het, moes jy dit self maak. Die assosiasie wat ek met kos maak het, is een van liefde – dit bring die familie saam en is ’n feesviering, veral wanneer die tafel kreun onder kos.

Dis wat ek wil doen: Om liefde deur kos te bring. 

Wat is vir julle spesiaal van die kompetisie?

Louzel: Ons geniet die program, want jy nooi mense in jou huis in en na omgewing waar jou hart is. Ons plaas is ’n uur van die dorp af so dis altyd vir ons ’n groot affêre as mense kom kuier. 

Wat is vir julle die belangrikste kombuisreël? 

Lani: Beplanning. Ons hou daarvan om alles neer te skryf, lysies te maak en ’n spyskaart op te stel. 

Wie neem leiding in die kombuis?

Lani: Dit hang van die spesifieke dis af. Ek sal meer tradisionele Suid-Afrikaanse plaaskos maak, terwyl Louzel ’n moderne kinkel aan die bekende smake gee. Dis wat ons sulke goeie spanmaats maak. 

Wat maak julle graag saam?

Louzel: Vandat ek kan onthou het ek en my ma graag saam koek gebak. My ma was boonop besig om met die koekmenger te werk toe ek 26 jaar gelede besluit het om my opwagting te maak. Ons bak steeds met dieselfde menger.


Liz en Leanne, beste vriendinne van Bloemfontein

Liz (links) en Leanne, beste vriendinne van Bloemfontein.

Waar kom julle liefde vir kos vandaan?

Liz: Ek is al lief vir kosmaak vandat ek vyf jaar oud was. My ma en ouma sou vir my resepte in plaas van storieboeke lees. Ons hele familie is gek oor kos. Dit bring ons saam om die tafel.

Leanne: Ek het grootgeword op ’n plaas in die Jacobsdal distrik. Ek was van kleintyd af altyd saam met my ma in die kombuis en het saam met my pa vleis verwerk. Ek was vyf jaar oud toe ek my eerste bok geskiet het en net daar het my pa my begin leer hoe om ’n karkas op te sny en vleis te verwerk.  

Trek julle altyd dieselfde aan? 

Liz: Dis strategie - consistency is the name of the game. Ons is baie ernstig oor ons deelname en wil wen. Ons neem nie deel vir die pret nie, maar het wel pret terwyl ons deelneem.

Ons hou nie daarvan om tyd te mors nie!

Gaan julle koppe stamp in die kompetisie?

Lizz: Ja, maar in ’n goeie manier. As ’n mens altyd saamstem, gaan een persoon altyd onder die ander een wees. ’n Mens moet eerlik met mekaar kan wees.

Dis soms moeilik, maar as jy nie eerlik kan wees nie, hoe sal jy goeie kos voorsit?

Watter soort kos kan kykers van julle verwag?

Leanne: Sielskos wat uit die hart kom, met liefde opgeskep en met respek hanteer word.

Watter dinamika gaan julle na die kompetisie bring?

Liz: Ons is albei werkende ma’s. Ons wil wys dat jy ’n goeie balans in die lewe kan hou tussen werk, familie en passie. As jy té gefokus is op die een, kan jy so maklik die ander een verloor.


Rein en Rowan, waterpolo-vriende van Krugersdorp

Rein (links) en Rowan, waterpolo-vriende van Krugersdorp.

Hoe lank is julle al vriende?

Rowan: Ons ken mekaar al sedert ons hoërskooldae en het deur waterpolo ontmoet. Rein het vir sewe jaar in Holland gebly en sedert hy teruggekeer het, is ons die grootste vriende.

Rein: Ek het geweet Rowan is die beste spanmaat vir die kompetisie nadat ons al verskeie kere saam aan potjieskoskompetisies deelgeneem het. Hy is ernstig, kalm in die kombuis, maar ook passievol.

Wie het julle leer kook?

Rowan: Ek het grootliks myself geleer. Ek en Rein kook nou al ’n hele klompie jare saam. Ek het in die proses ook baie van hom geleer.

Rein: My passie vir kos kom van my ma af. Ek was van kleintyd af mal daaroor om te kyk hoe sy kosmaak. Haar pa was Italiaans, so daar was baie Italiaanse geure.

Ek het vir sewe jaar in Holland gewoon en daar die geleentheid gehad om saam met ongelooflike sjefs te werk en ervaring op te bou. Ek is daar blootgestel aan ongelooflike restaurante en kos en dit het my passie vir kos verder aangewakker. 

Wat is jou spanmaat se irriterendste gewoonte?

Rein: Om nooit seker te maak dat daar genoeg koue bier is nie.

Rowan: Sy geneigdheid om nie om te gee vir tyd nie en om op die nippertjie iets nuut te probeer en nie te hou by die resepte wat ons aanvanklik beplan het nie.


Bruce en Claudia, getroude paartjie van Midrand

Bruce en Claudia, getroude paartjie van Midrand.

Waar kom julle liefde vir kos vandaan?

Bruce: My ma het ’n groot invloed op my passie vir kosmaak gehad en haar Asiese wortels het ’n groot invloed gehad op my en Claudia se styl as ’n span.

Claudia: Ek is gebore in Mauritius en het al die wêreld vol gereis. Ek assosieer sekere geure en disse met sekere plekke.

Sekere kosse roep sekere herinneringe en gevoelens op. Ons is baie familiegeoriënteerd en kos is die een ding wat ons saambring. 

Watter soort kos gaan julle in die MKR-kombuis kook?

Bruce: Kos met ’n Asiese invloed sal domineer, saam met baie speserye en rissies. 

Hoe mededingend is julle?

Bruce: Ek is baie mededingend. Ek was al verskeie kere ’n wêreldkampioen in Oosterse gevegkuns en dis veilig om te sê dat mededinging deel van my aard is. 

Claudia: Ek het ’n sterk opinie en hou graag daarby. Ek sal sê as iets nie vir my lekker is nie. As dit ’n slegte dis is, sal ek nie stilbly nie. Almal is geregtig op hul opinie, net so kan ek ook myne gee.

Wie dink julle is jul grootste sterkpunt in die kompetisie?

Bruce: Ons onvoorspelbaarheid. Niemand weet wat om van ons te verwag nie en ons hou hulle heeltyd aan die raai.

Hoe lank is julle al ’n paartjie?

Claudia: Ek en Bruce het 16 jaar gelede ontmoet toe ek hom by ’n Kung Fu-funksie gesien het. Ek was onmiddellik verlief op hom.

Ons is nou al jare getroud en het twee pragtige seuns. Ons is ’n voorbeeld van hoe teenoorgesteldes mekaar aantrek, en kon nie meer van mekaar verskil nie! Dit tel in ons guns, siende dat sy sterk punte my swak punte is en andersom. 

Wat is jou spanmaat se irriterendste gewoonte?

Claudia: Bruce gebruik elke pot en pan en maak die kombuis vreeslik vuil, so ek moet gedurig agter hom skoonmaak. Hy is ook nie ’n aanhanger van poeding nie. . . Hoe is dit ooit moontlik?

Bruce: Claudia stel nie ’n tydsklokkie nie en haar aandag word soms afgetrek, met die gevolg dat die kos brand!

Watter span is julle grootste kompetisie?

Claudia: Ons is ons eie grootste mededingers. As ons bekommerd raak oor die anders deelnemers gaan dit ons fokus laat verloor. Ons kan net beheer wat ons self doen en kan nie dat enigiemand ons aandag aflei nie.


Kelly en Claire, boekklub-vriendinne van Kyalami 

Claire en Kelly, beste vriendinne van Kyalami

Wat is vir julle die belangrikste kombuisreël?

Claire: Higiëne. Ek was die heeltyd my hande.

Wat dink julle van die beoordelaars?

Kelly: Hulle is vreeslik aantreklik.

Wie vat beheer in die kombuis?

Claire: Dit hang af van die dis. Ons sterk punte lê in verskillende velde. Vis is myne en Kelly is weer baie goed met Europese disse.

Waar kom julle liefde vir kos vandaan?

Kelly: In my geval kom dit van my ma af. Ek het op ’n kleinhoewe in Broadacres, Johannesburg grootgeword. Ons het ’n groot groentetuin, twee koeie en hoenders gehad.

Die kos het suiwer uit die grond gekom en die respek daarvoor was groot. 

Claire: Myne kom van familievakansies by die see. Een van my eerste herinnering is hoe my pa ná ’n dag op die see met die varsste vis terugkom na ons vakansieblyplek.

Ek het as klein dogtertjie gekyk hoe hy die vis sny, hoe dit gemarineer en gebak word. Die oomblik toe ek ’n pan kon hanteer, het ek self begin kook. 

Gaan julle koppe stamp in die kompetisie?

Claire: Ja, die heeltyd. Ons het albei baie sterk opinies oor wat reg is en wat nie reg is nie. Maar albei van ons moet soms ons trots sluk en ingee. 

Hoe mededingend is julle?

Claire: Ons is albei mededingend. Ek het van ’n jong ouderdom geleer dat om eerste te wees alles is – ’n tweede plek is niks. 

Hoe gaan julle die ander deelnemers se kos beoordeel?

Kelly: Ons gaan eerlik wees. Ek het nogal ’n sterk opinie – wat jy sien is wat jy kry. My groot kosdroom is om ’n kos-kritikus te wees. Dit sal my in staat stel om te reis en in die wêreld se beste restaunte te eet.

Watter soort kos gaan julle in die kompetisie kook?
Kelly: Ons is mal oor Franse geregte en ook kos met ’n Asiese invloed. 


MKR begin 13 Augustus om 18:00 op M-Net (DStv-kanaal 101).

Save