Regter John McBain van Jackson in Michigan is 'n man met wie jy nie moet sukkel nie. Vergeet daarvan om boonop nog teë te stribbel as hy jou vonnis.

Of erger nog, as jy nie die hofordonnans gehoorsaam nie.

Dié video is in Desember 2015 geneem toe Jacob Larson,'n jong man wat glo 'n meisie geteister het, voor hom moes verskyn omdat hy 'n beskermingsbevel verontagsaam het.

Hy praat ferm met Larson wat oënskynlik sy klasmaat bekruip en haar onder meer met minstens 22 Facebook-boodskappe bombardeer het.

"Dis soort van 'Fatal Attraction'-soort van goed," sê die regter. "Ek het jou die vorige keer al daarteen gewaarsku en vir jou gesê jy moet haar uitlos."

Larson begin protesteer. Hy blameer die meisie en sê hy wil hê die meisie moet dit self vir hom sê. Maar die regter duld niks daarvan nie.

"Jy weet, ék het jou aangesê om daarmee op te hou en jy het nie die boodskap hard en duidelik ontvang nie."

Hy vonnis die beskuldigde summier tot drie dae agter tralies vir sy slegte houding. Terwyl hy nog besig is om dit baie duidelik te maak dat 'n volgende oortreding hom nog langer in die tronk sal beland, val Larson hom in die rede en beskuldig die regter daarvan dat hy en die slagoffer kop-in-een-mus is.

Net daar verander drie dae na 45 dae agter tralies!

Nog steeds kapittel Larsen soos 'n stout kind. En sy vonnis skuif op na 93 dae in die gevangenis.

"Nog een woord uit jou mond en dit word 'n jaar!," sê die regter wat teen dié tyd goed die harnas in is.

Maar van gehoor gee is daar min. Larson gee steeds sy misnoeë te kenne en beskuldig weer die regter en die slagoffer daarvan dat hulle kop-in-een-mus-"motherf*****s" is.

Die regter lig hom duidelik in dat hy vir 365 dae toegesluit gaan word en daag hom uit om daarteen te appèlleer.

Toe Larson boonop hom teësit en weier om sy hande agter sy rug te sit, het die regter besluit tot hier toe en nie verder nie. Hy trek sy statige toga uit en betrek Larson saam met die hofordonnans om hom fisies te dwing om die versoek gehoor te gee.

Wat het die vurige regter oor sy gewilligheid om handjie by te sit, te sê?

"Daar's een ding wat ek nie duld nie, en dis ontwrigting in my hofsaal."

Dis natuurlik nie die eerste keer dat regter McBain die aandag getrek het met sy optrede in die hof nie.

In 2014 het hy tydens vonnisoplegging aan die beskuldigde gesê hy hoop sy sterf in die gevangenis.

Hy het haar daarvan beskuldig dat sy haar vriend aanhou steek het, tot waar sy besef het hy's dood.

Bronne: mailonline.co.uk, cbsnews.com