“Wanneer iemand ’n traumatiese gebeurtenis herleef, ondervind hy psigologiese reaksies wat soortgelyk is aan dié wat hy ervaar het tydens die gebeurtenis,” het Ellen O’Neill Stephens, ’n afgetrede aanklaer, verduidelik. “Hierdie antagonistiese stelsel (om in die teenwoordigheid van jou aanvaller te getuig) is onmenslik. Dit hou vir baie mense skadelike gevolge in.” Die mens se beste vriend kan egter hier die oplossing wees. Ellen en ’n veearts, Celeste Walsen, bestuur Courthouse Dogs, ’n organisasie wat honde oplei en beskikbaar stel om mense te bemoedig wat dit moeilik vind om in die hof te getuig – of dit nou ’n “volwasse verkragtingslagoffer of ’n familielid is wie se kind vermoor is”.

Ellen het daarop gewys dat “as ons ’n ontspanne hond by ons het, voel ons veilig”.

“Dit kan ons bloeddruk verlaag en angs verlig.” Ellen se vorige loopbaan het haar laat besef hoe traumaties dit vir die getuie kan wees om te getuig. “Ek het altyd gedink ek was, wanneer ek die hofsaal binnestap, veronderstel om die getuies te laat ineenkrimp en so ongemaklik te laat voel dat hulle op die een of ander manier met die waarheid sal uitkom,” het Ellen gesê. "Ek lig egter nou die regters in dat daardie tegniek nie werk nie.”

Courthouse Dogs, wat in 2004 gestig is, gebruik labradors of golden retrievers. Opleiding kan langer as twee jaar duur. Hierdie organisasie sonder winsbejag het tans 87 honde wat in 28 state werk.

Bronne: boredpanda.com, metro.co.uk