Kori Doty, ’n niebinêre transgender persoon, het hard en lank geveg om te verseker die baba se geslag word nie aangedui nie, maar dat die kind grootword met die reg om self die geslag te kies waarmee hy of sy geïdentifiseer wil word.

Amptenare in Kanada het ’n gesondheidskaart sonder aanduiding van geslag uitgereik aan die baba met die naam Searyl Alti. Pleks van “geslag”, het Searyl ’n “U” vir “onbekend”.

Kori meen aangesien die baba nie in ’n hospitaal gebore is nie, en dus buite die mediese stelsel, is die genitalieë nie ondersoek nie. Daarom moet die baba se geslag as onbekend geklassifiseer word.

“Ons vra nie dat enigiemand se ID teen sy/haar wil verander moet word nie. Ons vra net dat die struktuur van die manier moet begin verander waarop identifikasie, veral in die geboortesertifikaat, aangedui word,” het Kori aan CKNW News gesê.

Kori, wat die lewe aan die baba geskenk het, het gesê die kind behoort te kan besluit wat die geslag moet wees en dit moenie op die kind afgedwing word nie.

“As mense vra of die baba ’n seun of ’n dogter is, is my antwoord dikwels dat ek nog nie weet nie of dat ek nie haastig is om daardie soort etiket om hierdie baba se nek te hang nie. Tans is dit bloot ’n baba.”

Volgens barbara findlay, ’n menseregteprokureur wat haar naam sonder hoofletters spel en wat betrokke was by die saak rakende Kori se baba wie se geslag nie aangedui word nie, was die aankoms per pos van die geslaglose gesondheidskaart “iets besonders en ’n groot stap vorentoe”.

“Geslag word in hierdie kultuur toegeken wanneer ’n mediese persoon die baba se bene oplig en die genitalieë bekyk. Maar ons weet die baba se eie geslagsidentiteit sal eers ’n klompie jare ná geboorte ontwikkel,” meen barbara.

Bronne: Buzzfeed, CKNW News, Viral Thread