Hier is wonderlike nuus vir ma’s met kleuters. Binnekort sal jou kleinspan vir sy opwindende eerste skooldag op ’n verkenningstog saam met Buster die Brak en Juffrou Hanna kan gaan.

Juffrou Hanna is niemand anders nie as die aktrise Hanna Grobler. Saam sing sy en Buster 16 oorspronklike liedjies op CD en DVD uit die pen van Johan Vorster. Met titels soos “Moenie Bang Wees Nie”, “Almal Het ’n Gawe” en “Sê Vir My Hoe Werk Dit, Meneer” word die kinders aangemoedig om hul eie unieke gawes te ontdek.

Kinders leer ook meer oor Bybelstories, soos Josua en die wapenrusting wat ons vir elke dag se uitdagings nodig het, asook oor belangrike veiligheidsreëls; daar word selfs op die plaas besoek afgelê.

Die DVD sluit ook ’n bonus-karaoke-DVD in met al 16 liedjies sodat almal met oorgawe saam met Buster en Juffrou Hanna kan sing. Daar is ook ’n bonus-CD vir ouers, waarop die spelterapeut Arette Burger verduidelik hoe jy jou kind beter kan verstaan deurdat jy bewus is van die genadegawes wat hulle kan hê.

Buster die Brak en Juffrou Hanna sal binnekort op die rak wees. Stuur gerus ’n epos aan jenny@johanvorstersongs.co.za vir nog inligting.