Ter ere van koningin Elizabeth se 90ste verjaardag op Donderdag 21 April het die Britse monargie Annie Leibovitz gevra om ’n reeks pragfoto’s te neem.
Op een poseer die koningin en haar dogter, kroonprinses Anne, en op nog verskyn ’n glimlaggende koningin op die trap van die Windsor-kasteel, omring deur haar geliefde Walliese herdershonde, Willow, Vulcan, Candy en Holly.

Maar die een waaroor almal gons, is ’n kiekie saam met George, Charlotte, die res van die monarg se agterkleinkinders en twee van haar kleinkinders. Van links is: James, burggraaf van Severn, lady Louise Windsor, Mia Tindall, Elizabeth, Charlotte, Savannah Phillips, George en Isla Phillips.

James, burggraaf van Severn

Die agtjarige James is die seun van Sophie en prins Edward, gravin en graaf van Wessex. Hy, sy suster, Louise (onder), en die res van die gesin woon by die Wessex-gesinshuis, Bagshot Park, in Surrey.

Lady Louise Mountbatten-Windsor

Louise is tegnies gesproke ’n prinses, maar haar ouers het besluit sy moet eerder die titel van ’n graaf se dogter dra. Jy herken dalk die 12-jarige van William en Kate se troue in 2011, waar sy ’n strooimeisie was.

Louise is in 2003 met behulp van ’n noodkeisersnee vroeggebore, en dit het tot oogprobleme gelei. Haar ma, Sophie, het dit as “erg skeel” beskryf. Sy het glo in 2014 regstellende chirurgie ondergaan.

Mia Tindall

Mia is die dogter van Anne se dogter, Zara Phillips, en haar man, die voormalige rugbyspeler Mike Tindall. Mia, wat net ses maande jonger as George is, het tydens die fotosessie die koningin se beroemde swart handsak vasgehou. Zara en haar broer, Peter Phillips, het nie enige koninklike titels nie omdat hul ouers, Anne en die kavallerie-offisier Mark Phillips glo Elizabeth se aanbod om hul kinders deel van die monargie te maak van die hand gewys het. Dit het beteken Peter is die eerste wettige kleinkind van ’n monarg in meer as 500 jaar wat nie ’n titel het nie. Die jonger Zara is glo dolgelukkig daarmee om ’n “koninklike sonder ’n titel” te wees,” soos die Daily Mail haar al beskryf het. “Ek is nie ’n prinses nie,” laat hoor sy aan enigeen wat haar erfenis ophaal.

Prinses Charlotte

Prinses Charlotte Elizabeth Diana, wat op 2 Mei een jaar oud word, het die vername plekkie op oumagrootjie se skoot gekry. Sy is vierde in die ry van troonopvolgers ná Elizabeth – of “Gan Gan”, soos haar ouboet die koningin noem. Dis onwaarskynlik dat Charlotte ooit die troon sal bestyg, maar sy was onlangs boaan die tydskrif Tatler se lysie van mense wat saak maak – bo die koningin en die res van die koninklike familie. George was kort op haar hakke in die nommer-drie-plek.

Savannah Phillips

Op vyf jaar is Savannah die koningin se oudste agterkleinkind. Haar ouers, Peter (Anne se seun) en die Kanadees Autumn Phillips, probeer haar uit die kollig hou, hoewel sy soms saam met haar gesin by perdetoernooie gewaar word. Haar pa se maatskappy reël die straatpartytjie ter viering van die koningin se 90ste verjaardag waarvoor 10 000 mense na verwagting R3 000 per kaartjie sal opdok vir ’n piekniek in Junie by The Mall in Londen.

Prins George

Wat kan ons sê oor William en Kate se bolwangseuntjie wat jy nie klaar weet nie? Met sy geboorte in 2013 het die “stoute” tweejarige die derde troonopvolger geword en William se broer, prins Harry (30), verbygesteek. George, wat onlangs in Norfolk begin kleuterskool bywoon het, het ook vroeër vandeesweek in ’n spesiale portret saam met sy pa, oupa Charles en Gan Gan poseer.

Isla Phillips

Savannah se kleinsus is gebore in 2012, die koningin se diamantjubileumjaar. Nes haar suster en niggie Mia Tindell, het dié driejarige ook nie ’n koninklike titel nie.

Bronne: MetroOnline, MailOnline, Hello, The Telegraph

Ander stories op Huisgenoot.com

Kyk: Skattige prins George het ereplek op koningin Elizabeth se amptelike foto’s vir haar 90ste verjaardag

Pragfoto’s: Al die mylpale, prag en praal van Koningin Elizabeth se nege dekades op aarde

Is jy een van die hand vol kreatiewe mense wat dié optiese illusie kan uitpluis?

‘Ons was sulke goeie vriende,’ vertel eienaar van wêreld se oudste hond na dié haar laaste asem uitblaas

Hoe goed kan jy Engels praat?

‘Ek leef ’n heel ander lewe van binne’: Man vertel in roerende video van depressie

Kan jy glo? Dié nege vreemde goed gebeur in die ruimte met ruimtevaarders