In so ’n kas moet geraamtes skuil . . .

Ná jare in die buiteland keer die Welman-gesin terug na die Laan. Maar die Laners wat hierdie ma en pa en hul drie kinders in verlede geken het, lyk geskok oor hierdie gesin wat weer hul opwagting in Hillside maak.

Op die oog af is die Welman-gesin so na aan volmaak as kan kom. Maar maak oop die voordeur, luister uit die kombuis en miskien sal jy agterkom – daar is meer as wat die oog kan sien.

Ons het met die nuwe gesin oor hul karakters gesels. Kykers sal hulle vroeg volgende maand vir die eerste keer op die kassie ontmoet.

David Rees is Chris Welman

[caption id="attachment_126074" align="alignnone" width="459"]David vertolk die rol van Chris Welman. Foto: Verskaf David Rees vertolk die rol van die vindingryke Chris Welman. Foto: Verskaf[/caption]

Wie sal hom nou vergeet van sy Egoli-dae as die buiteperd Nick Naudé wat altyd hard moes baklei om bo te kom? Maar in 7de Laan is sy karakter, Chris Welman, ’n suksesvolle en gedrewe sakeman.

“Hy sal enigiets doen om ’n deal te maak. Hy stel hoë eise aan homself en verwag dieselfde van almal om hom. Hy is veral hard op sy twee oudste kinders, Rickus (gespeel deur André Lotter) en Alexa (Carina Nel). Sy jongste dogter, Amorey (Kristen Raath), is die enigste een wat volgens hom niks verkeerds kan doen nie. Sy is haar pa se oogappel, laat hom lag en draai hom om haar pinkie.”

Anders as sy karakter is hy in die regte lewe glad nie kwaai met sy eie dogter, Wanya (12), nie, vertel David. “Wanyatjie draai my om haar pinkie,” koer hy oor sy dogter by die joernalis Karin Eloff.

En ja, daar is ooreenkomste tussen hom en Chris, wat hoë eise aan homself stel. “Ek stel ook hoë standaarde vir myself en mik vir die beste. Ek het nie ooghare vir ruggraatloosheid nie. Ek werk daarna om altyd my beste te gee.”

Deirdre Wolhuter as Mariaan Welman:

[caption id="attachment_126075" align="alignnone" width="458"]Deirdre Wolhuter speel die matriarg Mariaan Welman. Foto: Verskaf Deirdre Wolhuter speel die matriarg Mariaan Welman. Foto: Verskaf[/caption]

Deirdre beskryf haar 7de Laan-karakter as ’n “uitvoerende huisvrou”. “Mariaan bestuur haar hele huishouding. Sy is uiters elegant, gesofistikeerd en ambisieus wat haar drie kinders, haarself en haar man betref. Jy wil nie aan haar slegte kant kom of iets doen wat haar belange bedreig nie.” Al wat sy en haar karakter gemeen het, is nie een van hulle kan kook nie, sê Deirdre en lag.

“Verder kon ons nie meer verskil het nie. Ek is ’n slob. Mariaan is elegant, altyd uitgevat, gegrimeer en haar naels is altyd gedoen. Ek sal in die huis rondloop met ’n boor in die een hand en ’n hamer in die ander; terwyl ek ’n kas bou of ’n kamer uitverf.”

Deirdre was onlangs in die fliek Pawpaw Vir My Darling te sien en sy is tans ook in die kykNET-speurdramareeks Fluiters op kykNET.

Haar paaie het al jare gelede met bekende Laners soos Christo Davids en Vinette Ebrahim gekruis toe hulle destyds in reekse soos Meeulanders en Soutmansland gespeel het. Dis die eerste keer dat sy heeltyds in ’n sepie speel. Sy word volgende maand 50 en daarom die groot verandering, vertel sy.

“Ek geniet dit tot dusver vreeslik baie. Dis so lekker om elke dag my medeakteurs te sien en verhoudings op te bou.” Haar grootste spyt is dat sy nie self ’n ma is nie, vertel Deirdre wat in die regte lewe enkellopend is.

“Gelukkig is ek nou ’n TV-ma. Omdat ek ’n ma speel en nie my eie kinders het nie, word die akteurs wie se ma ek speel, soos my kinders. Ek word verskriklik beskermend oor hulle. Ek vat al my opgebottelde moederlike gevoelens en laat gaan dit op die arme akteurs wat my kinders speel – of hulle nou daarvan hou of nie.”

André Lotter as Rickus Welman:

[caption id="attachment_126078" align="alignnone" width="459"]André Lotter is die Rickus Welman. Foto: Verskaf André Lotter is die aangename vent Rickus Welman. Foto: Verskaf[/caption]

In Villa Rosa het hy die gehate skobbejak Liam le Roux gespeel en is hy selfs al oor sy vertolking van dié rol in die openbaar geklap. Maar dié keer gaan kykers van sy karakter hou, verseker André Lotter. “Die girls gaan hom net wil druk. Gelukkig weet my vrou dit,” skerts hy.

“Rickus is ’n 28-jarige beroepstennisspeler, maar hy het ook ’n B.Com-graad verwerf om sy pa gelukkig te hou. Hy is gedrewe, gemotiveerd, ambisieus en hardwerkend. Hy is lief vir sy ouers en twee jonger susters en wil hulle trots maak, maar kry dit nie altyd reg nie. Hy kan soms vreemde keuses maak, maar dit kom uit ’n passievolle plek.”

André vertel toe hy jonk was het hy nes sy 7de Laan-karakter daarvan gedroom om ’n sportster te word. “Voor ek op drama besluit het, wou ek graag ’n rugbyspeler word. Dit was my groot droom. So ons deel daardie liefde vir sport en fiksheid. Ek is ook gedrewe in my loopbaan en verhoudings en soos Rickus ook hardkoppig, maar ek sal dit nie altyd soos hy wys nie.”

Dis vir hom lekker om aan ’n heel nuwe karakter lewe te gee. “Dis die eerste keer dat ek so ’n karakter speel. Rickus is ’n goeie ou. Dis ’n heel nuwe ervaring en wêreld vir my.”

Carina Nel speel Alexa Welman:

[caption id="attachment_126079" align="alignnone" width="459"]Carina Nel speel die saggeaarde Alexa Welman. Foto: Verskaf Carina Nel speel die saggeaarde Alexa Welman. Foto: Verskaf[/caption]

Haar karakter, Alexa, is ’n mediese dokter en die middelste kind. “Sy is anders as haar ouboet en jonger suster. Hulle is meer uitbundig en sal stoute goed aanvang. Alexa is verantwoordelik, saggeaard, slim en gee nie vir haar ouers probleme nie.”

Sy deel ook ooreenkomste met haar karakter, vertel Carina, wat ’n Pretorianer is en vir wie trouklokkies later vanjaar lui. “Ek is ook gedissiplineerd en verantwoordelik.”

Sy is nou vyf jaar in die bedryf en het voor haar rol in 7de Laan teaterwerk gedoen en was ook vir twee en ’n half jaar as Isabel in Generations te sien. Sy verseker haar nuwe karakter het talle verskillende dimensies. “Sy is interessant en kykers kan groot opwinding van haar verwag.”

Kristen Raath as Amorey Welman:

[caption id="attachment_126080" align="alignnone" width="459"]Amorey Welman. Foto: Verskaf Kirsten Raath as die saggeaarde Amorey Welman. Foto: Verskaf[/caption]

Kristen vertel haar karakter is die jongste suster en haar pa se oogappel. “Amorey is ’n spontane, energieke karakter en die lig in die hele gesin se lewe. Sy is ’n student wat by ’n sjefskool in Kaapstad studeer.”

Haar karakter is nes sy ’n taai en positiewe mens, vertel Kristen, oorspronklik van Nelspruit. “Sy gaan nog baie ontvou en kykers gaan interessante goed oor haar leer.” Dit is Kristen se eerste TV-rol.

“7de Laan is regtig ’n wonderlike leerskool en dit voel reeds vir my soos ’n familie hier. Ek moet myself soms knyp oor die wonderlike rol wat ek gekry het.”

Lees ook op Huisgenoot.com:

Ivan Zimmermann trap voort: Twee dae in Beijing met ‘baie mense, baie fietse en baie karre’

Céline Dion verklap laaste woorde aan haar man oomblikke voor hy sterf

So gaan dit deesdae met Gerhard Steyn se vroeggebore babadogter

Kyk net hoe brul 7de Laan se Xander op ’n ysterperd!