Die webtuiste, spesifiek vir mense wat ’n affair wil aanknoop, het in ’n data-ontleding onder meer na die profiel van “ons aktiefste SA mans en vroue” gaan loer om te peil watter sterretekens die meeste geneig is om “aan hul drange toe te gee”.

Terwyl die algemene opvatting lankal bestaan dat Skerpioene en Leeus meer seksueel ingestel is as ander sterretekens, toon die data-oorsig duidelik dat hulle nie die waarskynlikste oortreders is nie, aldus Victoria Milan.

Lees ook: NASA-aankondiging oor astrologiese-datums: Het jou sterreteken verander?

In Suid-Afrika behoort dié twyfelagtige status eintlik aan Visse, teen 10,1 persent die grootste groep wat die webtuiste gebruik. Waterdraers (9,9 persent) en Ramme (9,8 persent) is taamlik kort op hul hakke.

Die Skerpioen blyk trouens die getrouste van die sterretekens te wees. Hulle verteenwoordig “net” 6,4 persent van die “SA verneukers wat vir ’n avontuur ingeteken het”, sê die webtuiste in ’n mediaverklaring.