’n Tweejarige seun het Woensdagmiddag in Lenasia gesterf nadat hy vermoedelik met ontblote kragkabels gespeel het. Russel Meiring, ER24-wordvoerder, het aan Radio Islam gesê die reddingspan het sowat ’n halfuur lank probeer om die seuntjie se lewe te red, maar dit was vergeefs en hy is op die toneel dood verklaar.

Foutiewe skakelaars, uitgerafelde koorde en stukkende elektriese toebehore kan tot elektriese skokke lei.

Wat moet jy doen as iemand deur elektrisiteit geskok word?

Wees gewaarsku: Bloot ’n geringe elektriese skok kan fataal wees.

Moenie aan die persoon raak as daar steeds kontak tussen hom en die kragstroom is nie.

Skakel die kragbron onmiddellik af indien moontlik. Andersins moet jy ’n nie-geleiende voorwerp van plastiek, hout of selfs karton gebruik om dit van jouself en die persoon te probeer wegskuif.

Moenie die beseerde enigsins verskuif behalwe as daar onafwendbare gevaar dreig nie.

Probeer verhoed dat die beseerde koud kry.

’n Elektriese skok kan sigbare brandwonde veroorsaak. Die stroom kan ook interne skade aan jou organe veroorsaak.

As die wond sigbaar is, moet dit met ’n steriele verband bedek word. Moenie handdoeke of ’n kombers gebruik nie. Dit gee donsies af wat aan die wonde kan vassit.

Bel onmiddellik die nooddienste of ’n ambulans as die beseerde persoon enige van die volgende simptome toon:

? Ernstige brandwonde

? Verwardheid

? Swaar asemhaling

? Ongereelde hartklop

? Spierpyn en -sametrekkings

? Bewusteloosheid

Meld onwettige elektrisiteitsverbindings aan by 08600 37566 of 0800 112 722. Jy kan ook elektrisiteitsdiefstal by Operasie Khanyisa aanmeld deur die inligting via SMS aan Crime Line by 32211 te stuur. Die oproep is anoniem en sal R1 kos.

Bronne: mayoclinic.com, redcrossfirstaidtraining.co.uk