David McCallum van New York, wat 16 was toe hy in 1985 in hegtenis geneem is, het emosioneel geword toe regt. Matthew D’Emic hom vryspreek. Die volgepakte hof het begin hande klap toe hulle die beslissing hoor.

David en Willie Stuckey, wat ook 16 was, is in hegtenis geneem vir die ontvoering van en moord op die 20-jarige Nathan Blenner van Queens op 20 Oktober 1985.

Kinders het Nathan se liggaam die volgende dag op ongebruikte grond ontdek. Hy is een keer in die kop geskiet.

Die twee tieners is kort daarna in hegtenis geneem en het skuld beken. Hulle is die volgende jaar skuldig bevind en 25 jaar tot lewenslange tronkstraf opgelê.

Willie is in die tronk dood. Sy ma, Ernestine, het langs David in die hof gesit en sy hand vasgehou terwyl die regter uitspraak gelewer het. Sy het die hof later in trane verlaat en het geweier om met die media te praat.

David, geklee in ’n wit hemp, beige baadjie en kakiebroek, het glimlaggend uit die hof gestap en sy oorstelpte familie omhels.

“Ek voel ek wil eindelik huis toe gaan,” het hy aan verslaggewers gesê, en het erken hy het soms die hoop op vryheid laat vaar. “Ek is tegelyk baie, baie gelukkig en baie, baie hartseer,” het hy gesê, en het bygevoeg dat hy wens Willie kon saam met hom wees.

Sy eerste wens was om op die sypaadjie te stap, en dan om huis toe te gaan en sy ma se kos te geniet, het hy gesê. Hy het geen spesiale versoeke nie; ná 29 jaar van tronkkos sou enigiets wonderlik wees, het hy gesê. “My ma is so ’n wonderlike kok. Alles wat sy maak, is baie lekker. Ek is seker teen die tyd dat ons by die huis kom, sal ek ’n idee het van wat ek wil hê,” het hy gesê.

Ernestine het haar seun in die gang omhels en gesê sy was laat omdat sy gebak en haar seun se tuiskoms-ete gekook het. “Ek het aanhou hoop en bid dat hierdie dag kom,” het sy gesê.

’n Jurie het David en Willie in Oktober 1986 skuldig bevind aan moord, ontvoering, roof en onwettige besit van ’n wapen.

Die Brooklynse distriksprokureur Ken Thompson se kantoor het in Januarie ’n ondersoek begin en ná 10 maande tot die gevolgtrekking gekom dat hul bekentenis vals is en dat daar geen bewyse is wat die mans met die misdaad verbind nie.

Die regter het die skuldigbevindings ter syde gestel nadat Ken die hooggeregshof in Brooklyn gevra het om die vonnisse terug te trek en David te bevry.

Sedert Ken in Januarie die pos beklee het, word talle sake – hoofsaaklik moorde – hersien deur ’n spesiale span onder leiding van ’n regsdosent van die Harvard-universiteit. Die eenheid se ondersoek het getoon David en Willie se bekentenis was “vals en nie ondersteun deur fisieke of ander bewyse nie”, het Ken gesê.

Tot dusver het die eenheid se ondersoeke gelei tot die tersydestelling van nege skuldigbevindings, terwyl 17 ander geldig geag is.

David het aan joernaliste gesê hy wil sy opvoeding voltooi en in die openbaar praat oor onregmatige skuldigbevindings; hy sê hy vrees dit sal aanhou gebeur. “Dit is ’n stelsel wat myns insiens duidelik gebroke is, maar dit beteken nie dit kan nie herstel word nie,” het hy gesê.

“Ek dink mense moet meer ag slaan op hierdie mense se hulpkreet.”

Dit is nie onmiddellik bekend of aanklaers die moordondersoek sal heropen nie.

– Jennie Matthew/Sapa