Die familie van die vermiste man van Hermanus gaan deur enorme trauma, sê ’n bron na aan hulle wat anoniem wil bly. “Die onsekerheid is ongelooflik sleg.”

Die polisie kon egter nog geen nuwe inligting inwin oor Barry Leonard (20) van Hermanus wat vroeg Saterdagoggend spoorloos verdwyn het nie.

Sy ma, Max Smith, wou glad nie kommentaar lewer oor die soektog na haar seun nie.

Barry is ’n kunstenaar op die dorp. Hy is Saterdagoggend om 02:00 die laaste keer by die Mock Turtle-kuierplek gesien. Hy het glo ’n argument met sy meisie gehad waarna hy, geklee in ’n grys hemp en donker broek, sy weg na die Ou Hawe gemaak. Die Ou Hawe is ’n bekende uitkykpunt naby die see en dieselfde plek waar Die Byl-akteur Waldemar Schultz se seun in 2013 na sy dood gegly en geval. Volgens berigte het Barry nie toe sy selfoon by hom gehad nie. Sy familie het naarstiglik na hom begin soek toe hy later die oggend nie by die huis opdaag nie. Sedertdien is die polisie en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) by die soektog betrek. Ook Huisgenoot het oor die naweek by die soektog betrokke geraak.

“Ten spyte van ’n uitgebreide see- en kuslynsoektog is niks opgelewer nie,” het Craigh Lambinon van die NSRI gesê.

Barry spesialiseer in fotografie en van sy werk is al by verskeie uitstallings gewys. Die familievriend beskryf hom as ’n “dierbare en uiters talentvolle jong seun met hope talent”.

Die soektog na hom duur voort.