“Die familie is nie van plan om kommentaar te lewer op enige kwessies rondom sy parool soos in die media berig is nie,” het Anneliese Burgess, die gesin se woordvoerder, in ’n e-pos aan News24 gesê.

Pistorius sal nie op parool vrygelaat word nie, maar sal wel onder korrektiewe toesig geplaas word.

Die raad vir korrektiewe toesig en parool het Maandag bevestig dat Pistorius op 21 Augustus uit die Kgosi Mampuru II-tronk in Pretoria gelaat sal word.

Pistorius is op 12 September verlede jaar vrygespreek op ’n aanklag van moord, maar skuldig bevind op ’n aanklag van strafbare manslag weens die skietdood van sy vriendin, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag in 2013.

Hy het vier skote deur die geslote deur van ’n toilet in sy huis geskiet. Pistorius het gedurende die verhoor aangevoer dat hy gedink het ’n inbreker is in die toilet.

Hy is op 21 Oktober tot vyf jaar tronkstraf weens manslag gevonnis, sowel as drie jaar tronkstraf vir die afvuur van ’n vuurwapen in ’n restaurant. Dié vonnis is vir vyf jaar opgeskort.

Daar word wyd daaroor bespiegel of Pistorius weer sal begin oefen wanneer hy onder korrektiewe toesig is.

Ampie Louw, sy afrigter, wou nie daaroor kommentaar lewer of sê of hy in kontak met Pistorius was nie.

“Ek het ’n besluit in beginsel geneem dat ek nooit, nóóit weer met die media sal praat nie,” het hy gesê.

Bron: News24