“Jazz was ’n liefdevolle hond.” So onthou Alwyn Vorster die Skotse-terriër-kruising wat hy weens ingewandeversaking van sy swaarkry moes verlos. En al was hierdie brakkie nie ’n “bloubloed-afstammeling” nie, meen Alwyn sy Jazz “het kop en skouers bo ander honde uitgestaan wat maniere en ordentlikheid betref”.

[caption id="attachment_135436" align="alignnone" width="600"]Foto: Alwyn en Jazz in die tuin / Verskaf Foto: Alwyn en Jazz in die tuin / Verskaf[/caption]

Alwyn en sy vrou, Estelle, het nie ’n heining om hul werf op Stilbaai nie. Hier kon Jazz hom behoorlik uitleef.

Hy was een van daardie honde wat op die werf agtergebly het om wag te hou, vertel sy baas.

Maar toe Jazz op 13 jaar te swak raak, moes Alwyn die besluit neem om sy hondekind van sy swaarkry te verlos. Nou, twee jaar later, hou Jazz steeds oor die werf wag – in die vorm van ’n Westringia of twee.

Lees ook: Varkhond sterf ter wille van sy eienaar

[caption id="attachment_135437" align="alignnone" width="600"]Foto: Die vier Westringiaplante met die oog op 'n honde-boom. / Verskaf Foto: Die vier Westringiaplante met die oog op 'n honde-boom. / Verskaf[/caption]

Alwyn onthou die goeie ou dae saam met Jazz. Wanneer die buurmanne in die straat vergader het, sou Jazz ewe nader staan en die indruk skep dat hy alles verstaan wat gesê word.

“Wanneer ek hom dan vra om saam te praat, trek hy sy ore agtertoe teen sy nek en blaf een of twee keer,” sê Alwyn. Jazz het veral die aandag geniet wat hy gekry het wanneer alle oë op hom was.

[caption id="attachment_135438" align="alignnone" width="602"]Foto: Jazz het ook van motorritte gehou. / Verskaf Foto: Jazz het ook van motorritte gehou. / Verskaf[/caption]

Jazz het elke oggend by sy vriendin, Ninna, ’n swart staffordshireterriër, gaan kuier.

Wanneer hulle naby Ninna se huis was, het Alwyn vir Jazz gesê: “Gaan roep vir Ninna!” Met Jazz wat vooruithardloop en Alwyn wat met bederfhappies aankom, het Ninna solank hek toe gehardloop – gereed om te groet. “Ná die uitdelery kon ons verder stap,” sê Alwyn.

Een van Alwyn se geliefkoosde herinneringe was om Jazz saam te neem wanneer hy met die boot gaan visvang het.

Lees ook: Lelikste hond ter wêreld sterf

“Hy was dol daaroor om deur die vleigras te hardloop,” vertel Alwyn.

En dis juis oor hierdie redes dat Alwyn sy geliefde hond “vir ewig” wou laat voortleef.

[caption id="attachment_135439" align="alignnone" width="600"]Foto: Hier is die boom se takkies gebuig en liggies met draad vasgemaak. / Verskaf Foto: Hier is die boom se takkies gebuig en liggies met draad vasgemaak. / Verskaf[/caption]

Ná Jazz se dood het hy besluit om nie weer ’n hond aan te skaf nie. Toe “bou” hy met vier Westringias ’n hondekind.

Hulle is so geplant dat dit die “nuwe” Jazz se vier bene voorstel.

[caption id="attachment_135440" align="alignnone" width="600"]Foto: Hier begin Jazz lyf wys. / Verskaf Foto: Hier begin Jazz lyf wys. / Verskaf[/caption]

[caption id="attachment_135441" align="alignnone" width="602"]Foto: Jazz ná dertien maande. / Verskaf Foto: Jazz ná dertien maande. / Verskaf[/caption]

Sedert Mei 2015 groei Jazz goed en moet Alwyn hom gereeld snoei.

“Dit was swaar om Jazz te groet,” sê Alwyn. “Hierdie ‘lewende beeld’ bied tot ’n mate vertroosting wanneer die verlange te groot raak.”