Dit is Vrydag in die Middelburgse landdroshof gehoor. Theo Jackson en Willem Oosthuizen se regsverteenwoordiger, John Welch, het hul verklarings in die hof voorgelees. Dit was die tweede dag van hul borgtogverhoor.

Volgens hul verklarings erken albei hul optrede was nie bedoel om skade te berokken nie. Hulle het ook aansoek om borg gedoen en aangedui hulle kan R5 000 daarvoor beskikbaar stel. Daarbenewens het hulle die hof verseker hulle sal nie met getuies inmeng of Victor beïnvloed nie. Die staatsaanklaer, Robert Molokoane, het dit egter betwyfel en gesê hul aanhouding sal die publiek tevrede stel. “Dis ’n skok om te sien hoe ’n man in ’n doodskis gesit word,” het hy gesê.

Tydens die verrigtings Donderdag het die hof gehoor hoe Victor oor sy hele lyf geskop is terwyl sy hande vasgebind was. Die ondersoekbeampte, speurder Dimakatso Bahula, het ook getuig toe Victor sy blyplek op 17 Augustus verlaat, het hy agtergekom hy word deur twee Land Cruisers agtervolg. Die twee voertuie het tot stilstand gekom en Victor is sonder enige verduideliking deur die twee mans geskop. Theo en Willem word aangekla van ontvoering en aanranding met die bedoeling om ernstig te beseer. Die beweerde aanranding op Victor het op die eiendom van JM de Beer Boerdery, langs die Komati-kragsentrale in Mpumalanga, plaasgevind.

In die video van die voorval wat op 7 November op YouTube gedeel is, kan gehoor word hoe ’n man wat Afrikaans praat, vir Victor in ’n doodskis dwing en dreig om petrol op hom uit te gooi.