Tot wanneer moet ’n kind nog ’n middagslapie vat? En hoe gemaak as een van hulle moet slaap, een wil speel en die ander moet huiswerk doen? Ons het raad.

Elke ma wat kinders in verskillende ouderdomsgroepe het weet sekerlik wat ’n probleem dit skep wanneer een kind reg is vir speel, ’n ander vir huiswerk doen en nog een op die heup wil sit. Een so ’n ma het ons op Facebook gevra hoe om te maak met haar seuns wat nie in die middae wil slaap nie terwyl haar oudste dogter, nou in gr. 3, huiswerk moet doen. Haar jongste seun is vier en die middelkind is ses.

Die ma sê: “Wat kan ek maak dat my kinders smiddae slaap? Hulle baklei vreeslik en is baie huilerig wanneer hulle van die skool af kom. Ek het al by hulle gelê, stories gelees en met hulle geraas, maar niks wil werk nie. My oudste dogter sukkel om huiswerk te doen, want hulle raas en pla haar. Ons almal kom so tweeuur by die huis, en die kinders slaap nie by die skool nie.”

CP de Jager, ’n voorligting- en opvoedkundige sielkundige in Vanderbijlpark, sê slaap is inderdaad nie die antwoord nie.

“Kinders van daardie ouderdom slaap net nie meer smiddae nie, en gaan ook nie by die skool slaap nie.  Ek stel voor die twee seuns word eerder konstruktief besig gehou met opvoedkundige speelgoed of ’n basiese, lekker speletjie, soos bal skop in die.”

Hy sê omdat hulle in verskillende fases is, moet die meisie wel op haar huiswerk fokus, en dit is reg dat haar ma haar bystaan. “Skep ’n veilige ruimte vir huiswerk doen en wees streng oor die reël dat die seuns haar nie mag pla terwyl sy werk nie. Maar tap eerder die seuns se energie sodat hulle saans lekker slaap!”

Tot wanneer moet ’n kind smiddae slaap?

Babycenter.com se Jodi Mindell, ’n kenner op die gebied van pediatriese slaap, sê die meeste kinders laat vaar hul middagslapies tussen die ouderdom van drie en vier. “Net ongeveer ’n kwart van kinders teen die ouderdom van vyf of ses slaap nog smiddae.”

Waarmee kan ek my jonger kinders besig hou wanneer ek nie kan aandag gee nie?

Die meeste ma’s weet hoe dit voel wanneer jy ’n kind moet besig hou terwyl jy eintlik ander dinge het om te doen. Stel ’n boks dinge bymekaar wat jy weet jou kind van hou. Bêre dit vir tye wanneer hulle hulself moet besig hou. Dinge soos klei, verf en legkaarte kan alles werk. Moenie alles op een slag gee nie – wag eers dat hulle die maksimum uit een item gekry het voor jy die volgende een toelaat. En moenie skuldig voel omdat jy nie ten alle tye al jou aandag aan hulle kan wy nie.

Onthou, dit is ’n belangrike deel van ’n kind se leerproses om kans te kry om dinge op hul eie te ontdek en te leer verstaan.

Ons stel hierdie lekker, basiese aktiwiteite voor:

Maak tuin!

[caption id="attachment_2872" align="alignnone" width="199"]Gespeld van happyhooligans.ca Gespeld van happyhooligans.ca[/caption]

Gee vir elke kind ’n veilige hoekie in die tuin waar hulle hul eie ding kan doen. Of hulle nou modderkoekies bak of saadjies plant, solank dit net lekker is! Laat hulle op die stoep sit en ’n potplant plant as die weer nie lekker is nie. Dié buite die Kaap, waar dit in die winter sopnat is, kan hul kleuters ’n tuinslang in die hand gee en vra om verdorde plante nat te lei.

Maak herfs- of klipkuns

[caption id="attachment_2873" align="alignnone" width="193"]Gespeld van plaidonline.com Gespeld van plaidonline.com[/caption]

Laat jou jong kind blare optel, plaas ’n paar koerante onder sodat hulle nie mors nie, en vra hulle om die blare met akriel- of waterverf in helder kleure te verf. Hulle kan ook spoelklippe verf wat jy later in ’n vensterbank of in die kruietuin kan gebruik.

Speel met klei

[caption id="attachment_2871" align="alignnone" width="221"]Gespeld van modernparentsmessykids.com Gespeld van modernparentsmessykids.com[/caption]

Jy kan jou eie klei by die huis maak, of jy kan speelgoedklei in voorraad hou. Stel uitdagings vir die kind soos “bou vir mamma ’n nuwe eetstel uit klei”, of “hoe sou ons huis gelyk het as jy hom met klei kon bou?”

Hou bootresies in die bad

[caption id="attachment_2876" align="alignnone" width="199"]Gespeld van raisingwildones.com Gespeld van raisingwildones.com[/caption]

As daar twee boeties of sussies is, tap ’n wasbak, emmer of bad met vlak water en sny bootjies uit swembadnoedels. Die kinders kan ure lank teen mekaar jaag!

Sorteer iets uit

[caption id="attachment_2877" align="alignnone" width="300"]Gespeld van athomewithali.net Gespeld van athomewithali.net[/caption]

Het jy ’n boks vol Lego-stukke wat alles deurmekaar lê? Of ’n boks speelgoeddiere wat tussen balle en ander speelgoed lê? Gee jou kind ’n houer vir elke kleur of soort speelgoed, en vra hulle om elke soort speelding in ’n ander boks te sit. Dit help jou sommer om hul kamer netjies te kry!

Skattejag met ’n draai

[caption id="attachment_2870" align="alignnone" width="300"]Gespeld van notimeforflashcards.com Gespeld van notimeforflashcards.com[/caption]

’n Skattejag hoef nie tyd of moeite te verg nie, en die skat kan die soektog self wees. Hierdie aktiwiteit kom van die blog notimeforflashcards.com en dit werk fantasties vir die blogger se tweejarige en sesjarige. Kies ’n paar velle kleurpapier, kry speelgoed van dieselfde kleure en steek die speelgoed deur die hele huis weg voor die kinders by die huis kom. Pak nou die velle kleur uit op ’n tafel en sê die kinders moet die speelgoed soek tot elke vel papier vol is van die speelgoed wat by die kleur pas. Dié ma het sommer plastiekinsekte gebruik.

Nog blink idees

Klik hier of hier en vir nog idees en loer ’n bietjie na ons Pinterest-borde.

- Dalena Theron

Ekstra bronne: creativewithkids.com, babycenter.com, notimeforflashcards.com, raisingwildones.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.