Die Backstreet Boys-ster AJ McLean gaan weer pa word.

[caption id="attachment_135982" align="alignnone" width="600"]AJ McLean (Foto: Michael Boardman/WENN.com) AJ McLean (Foto: Michael Boardman/WENN.com)[/caption]
“Die McLean-gesin verwag volgende lente ’n nuwe toevoeging!” het hy geskryf by ’n foto van vier paar Air Jordan-tekkies – een vir elke lid van die gesin. Hy het verder geskryf: “#laborday! Vang julle dit? ’Labor’ day! Ek’s lekker laf! #avaisgonnabeabigsister #baby2! Sal julle op die hoogte hou! Ons is so opgewonde!”

AJ en sy vrou, Rochelle (34), het in Desember 2011 afgehaak. Hul dogter, Ava Jaymes, is in November 2012 gebore.

Die babanuus uit die Backstreet Boys-kamp kom minder as vyf maande nadat Nick Carter (36), ook ’n voormalige Backstreet Boy, en sy vrou, Lauren (32), die eerste keer ouers geword het. Klein Odin Reign Carter is op 19 April vanjaar gebore.

Nuus dat die paartjie swanger is, het laat in Oktober uitgekom en Nick het daarna op die Amerikaanse dansprogram Dancing with the Stars erken hy en Lauren het gesukkel om swanger te raak.

“Ons probeer nou al ’n jaar lank om ’n baba te kry. Om eerlik te wees, dit was moeilik. Daar was tye dat ons gedink het dit sou nie gebeur nie.”

Lauren het vertel: “Ons was al voorheen swanger, maar het die baba verloor. Dit was swaar vir Nick. Dit was hartseer om hom so opgewonde en toe so seergemaak te sien.”

Nog ’n lid van die Backstreet Boys, Kevin Richardson (44), het ook onlangs oor sy vrou, Kristin (46), se vrugbaarheidsprobleme gepraat.

Hulle het gesukkel om ná hul seun, Mason, se geboorte dadelik swanger te raak, maar hul tweede kind, Maxwell, is uiteindelik in 2013 gebore.

© Cover Media