Oudpres. Nelson Mandela is ’n ware held. Hierdie paar aanhalings herinner ons aan waarom ons – en die wêreld – so lief is vir die man wat ons pragtige land vir altyd verander het.

  1. Opvoeding is die magtigste wapen waarmee jy die wêreld kan verander.
  2. Ek is in wese ’n optimis. Of dit uit oorerwing spruit of aangeleer is, kan ek nie sê nie. Deel van optimisties wees is om jou gesig na die son te rig en jou voete te laat vorentoe beweeg. Daar was vele donker oomblikke toe my geloof in die mensdom deeglik getoets is, maar ek wou en kon my nie aan wanhoop oorgee nie. Daardie kant toe lê neerlaag en dood.
  3. Om armoede te klop is nie ’n welsynsdaad nie; dis ’n daad van geregtigheid. Nes slawerny en apartheid is armoede nie natuurlik nie. Dit is mensgemaak en mense kan dit deur hul optrede oorkom en uitwis. Soms het ’n geslag die keuse om groot dinge te vermag. Jy kan een van daardie mense wees. Laat jou grootheid van gees groei.
  4. ’n Goeie kop en ’n goeie hart is altyd ’n formidabele kombinasie. Maar wanneer jy ’n geletterde tong of pen daarby voeg, dan het jy iets baie spesiaals.
  5. Ons kinders is ons grootste skat. Hulle is ons toekoms. Diegene wat hulle misbruik, skeur aan die weefsel van ons samelewing en verswak ons nasie.
  6. Wrewel is soos om gif te drink en te hoop dit maak jou vyande dood.
  7. Ek is nie ’n heilige nie, tensy jy ’n heilige beskou as ’n sondaar wat aanhou probeer.
  8. Niemand word gebore met ’n haat vir ’n mens met ’n ander velkleur, agtergrond of geloof nie. Mense moet leer om te haat. En as hulle kan leer om te haat, kan hulle leer om lief te hê, want liefde kom natuurliker vir die menslike hart as haat.
  9. Daar is geen passie daarin om tevrede te wees met ’n lewe wat minder is as die een waartoe jy in staat is om te lei nie.
  10. Ek het daardie lang pad na vryheid gestap. Ek het probeer om nie te struikel nie, maar ek het tog foute gemaak. Ek het ook ontdek nadat jy ’n groot heuwel uitgeklim het, wag daar nog baie heuwels. Toe het ek ’n oomblik geneem om te rus, om die pragtige uitsig om my te besigtig, om terug te kyk na die afstand wat ek afgelê het. Maar ek kan net vir ’n oomblik rus, want vryheid gaan met verantwoordelikhede gepaard. Ek durf ook nie sloer nie, want my lang pad is nog nie klaar nie.

Besoek ook:

- Foto's van Nelson Mandela se lewe