As jy ’n Afrikaanse sanger is in Suid-Afrika, moet jy maar weet: Van ’n rustige Kerstyd saam met jou geliefdes in jul strandhuis kan jy vergeet. Want dis die tyd van die jaar dat manne soos Ray Dylandie een vertoning ná die ander inryg.

Die afgelope Kerstyd het Ray binne 18 dae op 12 dorpe in die Oos- en Wes-Kaap opgetree, onder meer by die Huisgenoot-musiekplaas in Hartenbos.

Maar hy het darem tyd gekry om verloof te raak – tussen al die toerdery deur het hy op Yzerfontein aan die Weskus tyd opsy gesit om sy meisie,Jeanine Victor, op Kersdag te vra om te trou.

Maar net die volgende dag moes hy weer koers kies, want die aanhangers het gewag . . .

Dis nie net die daaglikse konsert hou wat jou klaarmaak nie, vertel Ray.

Om elke aand in ’n vreemde  bed te slaap en na jou geliefdes te verlang is net so erg. Om van die lang ure op die pad, die ughawens en vlugte, vroeë oggende en laat nagte nie te praat nie. In die drie weke van die vakansie het die sanger van treffers soos Jessica en Breek die Ys sowat 5 000 km afgelê.

En spesiaal vir Huisgenoot-Tempo-lesers het hy oral langs die pad foto’s geneem om te wys wat als agter die skerms op so ’n toer gebeur: die eensame hotelkamers, waarmee hy hom langs die pad besig hou, die tye agter die verhoog en selfs die manewales nadat die luidsprekers en mikrofone weggepak is.

Kry vandag nog die Herfs 2011-uitgawe van Huisgenoot-Tempo om Ray se foto's van sy ervaringe te sien. Op die bladsy waarop die artikel verskyn is daar ook 'n ikoon wat jy met jou foon kan klik en kyk hoe Ray verduidelik wat op die foto’s gebeur.