annetjie main
Twee mans verskyn vanoggend in die landroshof in Witrivier nadat ’n eerste verdagte (26) Saterdag die plek waar Annatjie vermoor is aan polisie gaan uitwys het. Dit was langs ’n bosboupad sowat 1,5?km diep ’n plantasie in.

’n Tweede verdagte is laat Sondagaand vasgetrek.

Annatjie, wat vermoedelik gekaap en ontvoer is, se lyk is in ’n plantasie tussen Witrivier en Hazyview gevind. Sy het Woensdag omstreeks 07:00 vermis geraak nadat sy vermoedelik by die hek van hul kleinhoewe Curlewis, Rocky’s Drift, gekaap is.

Lees ook: Hartseer nuus: Vermiste Annetjie Myburgh se lyk gevind

“Ons het hard gebid vir uitkoms gister,” het Bruce Sondag gesê, maar vergifnis en afsluiting is altyd die tweede prys.

“Ons wil as familie eerstens baie dankie sê aan ons Hemelse Vader wat ons almal se gebede verhoor het deur om vir ons te sorg vir die deurbraak sodat ons berusting kan vind in hierdie ongelooflike moeilike tyd,” het haar seun Wendell gesê.

“Ons sou graag eerder my ma, Annatjie weer lewendig wou terughê, maar besef dat nie almal wat wegraak altyd gevind word nie. Ons gebede is met daardie families ook wat steeds soekend en ons bly biddend saam met hulle."

“Aan ons familie en ook skoonfamilie en vriende wil baie dankie sê vir jul gebede, liefde en omgee. Dit is juis waarvoor sy opgestaan het.

“Sy was so diensbaar in elke betekenis van die woord. Die manier wat die gemeenskap hande gevat het ten spyte van hul ras of geloof is vir ons baie spesiaal. My ma sou so trots gewees het, want dis wie sy was en sy sou voor in die koor gestaan het sou hierdie met enigiemand anders gebeur het."

Die gesin het verskeie individue bedank, onder meer die speurspan, en ander organisasies. Die Facebook-blad, Bid vir Annatjie Myburgh wat gestig is toe daar nog na haar gesoek is, het bykans 10 000 lede.

Wendell jnr het gesê hy, sy vrou, Charmaine, en hul seun Aiden is dankbaar dat sy lank genoeg gespaar is om tyd saam met Aiden deur te bring.

“As ons land kan hande vat en saamstaan vir ’n saak soos hierdie wat die week in Witrivier gebeur het, dan is als nog nie verlore nie. Ons almal haat misdaad, maar om te vergewe is ons eerste opdrag en dan te bly bid vir ander. Dis seer, maar jul ondersteuning help ons.”

Bruce het gesê Annatjie se laaste Facebook-inskrywing was oor haar kleinkind.

Namens sy suster, Marlize en haar man, Dawie het hy gevra dat mense die gesin en familie aan die Here op te dra sodat hulle genoeg krag kan hê om ware vrede te vind by ons Hemelse Vader.

“Ek gaan dit mis om op my ma se skoot te sit. Ek mis dit om met my ma van mening te verskil, veral oor haar modekeuses. Haar stywe rugdrukkies en haar gunsteling-sêding, “ag, whatever,” het Marilize gesê.