Dis ’n ware liefdesverhaal. So reg uit ’n hygroman. Stel jou dit voor: ’n Vaaljapie en ’n sexy meisie is al van kindsbeen af vriende.

In sy hart is die vaaljapie nog al die jare verlief op sy sexy vriendin, maar sy sien hom net as haar beste pel, en nooit kom dit eens by haar op dat hy op haar verlief kan wees nie.

Saamsaam word die twee boesemvriende groot, met die vaaljapie wat snags van sy sexy vriendin droom, maar nooit iets wil sê of toenadering wil soek nie.

Want sê nou net hy dinges die vriendskap op? En om als te kroon moet hy aanmekaar toekyk hoe sy met die een swaap ná die ander uitgaan, en is hy die een wat elke keer moet troos as dinge verkeerd loop.

Gryp die verhaal jou verbeelding aan? Dink jou dan in hoe treffend dit sal wees as die Vaaljapie niemand anders is as Jay nie, en die sexy vriendin Donnalee Roberts, wat Annelie in 7de Laan speel.

Want dis presies wat ons beplan vir die nuwe musiekvideo van Jay se treffer Melanie, en jy kan eksklusief ’n rol daarin losslaan. Trouens, daar is ’n hele paar rolle op die spel!

Danksy HuisgenootTempo, Blixem Produksies en Jay se platemaatskappy, Coleske Artists, gee ons vir HGTempolesers die kans om die kalklig te deel met Jay en Donnalee, en wag tot jy hoor hoe die storie vir hierdie musiekvideo eindig . . .

Want sien, die liefde oorwin alles. Soos Jay immers sing: “As ’n man ’n vrou liefhet, dan maak hy so . . .”

ONS SOEK NA . . .

Daar is heelwat ekstra rolle wat gevul moet word in die video van Melanie.

1 Die video gaan Jay en Melanie uitbeeld van kleuterdae tot waar hulle nou is. Die volwasse Jay en Melanie het ons klaar, maar ons soek drie pare dubbelgangers wat die jong vriende kan speel in terugflitse. Die jonger dubbelgangers hoef natuurlik nie op ’n haar soos Jay en Donnalee te lyk nie, maar die ouer dubbelgangers moet darem op hulle trek – dink aan eienskappe soos haarkleur, haarstyl en liggaamsbou.

2 Jou skool kan deel wees van die pret. een van die tonele is ’n outydse sokkiedans, en daarvoor het ons ’n skool en leerders nodig.

3 ’n Verskeidenheid ekstras vir ’n restauranttoneel. Dit kan enigiemand wees – van kinders tot hul ouers, oumas en oupas!

KLIEK HIER vir jou inskryfvorm of kry dit in die Herfs-uitgawe van HG-Tempo, nou op die rakke. Let daarop dat bepalings en voorwaardes geld. Maak

seker jy lees die reëls soos op die inskryfvorm uiteengesit.