Sy was nog ’n student toe Nicole Flint hoor Jacaranda FM bied  ’n proeflopie vir radiowerk. Toe stuur sy ’n e-pos en in die onderwerpreël tik sy in hoofletters: “Moet asseblief, asseblief, asseblief nie uitvee nie . . .”

Dié vurige wil om te wen het haar ’n pos as die omroeper Darren Scott se assistent besorg – en was dit nie daarvoor nie, was sy heel moontlik nie vandag die nuwe Mej. Suid-Afrika nie.

“Darren het my gevra om vir ’n onderhoud te kom en van daar af het die dinge net gebeur,’’ vertel die 21-jarige model die dag nadat sy die gesogte kroon verower het. Die ondervinding was onskatbaar waardevol en Nicole glo dit het haar net daardie hupstootjie bo die ander finaliste gegee.

Daardie selfde dryfkrag wil sy nou inspan om alles uit haar Mej. SA-jaar te haal, en boaan haar lysie is die groot uitdaging om mense weer werklik opgewonde oor die kompetisie te maak. “Dit het die laaste paar jaar gely en ek wil dit verander,’’ sê sy ernstig.

Sy wil ook welsynwerk onder die jeug van die land doen, iets wat haar na aan die hart lê. Sy hoop om die ander finaliste se hulp te kry en veral dié van die eerste prinses, Matapa Maila, en tweede prinses, Lisa van Zyl, met wie sy goed bevriend geraak het.

‘‘Al die finaliste het iets betekenisvols waarmee ’n verskil gemaak kan word. Dit hoef nie net Mej. SA te wees wat  goeie dinge probeer doen nie,’’ sê sy.

Nicole, wat in Centurion grootgeword het, droom al van kleins af van die gesogte Mej. SA-kroon. ‘‘Ek het die kompetisie altyd op TV gekyk en gedink: Ek wil dit doen. Kyk net hoe mooi is die meisies.’’

Haar ouers, Ian, ’n verkoopsdirekteur, en Liz, wat vir ’n telekommunikasie-onderneming werk, en ouboet Geoffrey, ’n fotograaf, was baie ondersteunend, en sy het op 13 jaar begin modelwerk doen.

Lees meer oor Nicole in Huisgenoot van 31 Desember.