NATUURLIK was heelparty aanhangers in hul noppies oor ’n 2011-rugbyprogram wat uit sy nate bars. Rugbybase het ewe breed geglimlag. Maar daar was ook kommer – einde verlede jaar al met die bekendmaking van die nuwe Superrugby-toernooi met sy 15de span – oor die tol van moontlike spelerooreising wat al dié hoëintensiteitrugby kan eis.

Die Bokke wil immers vanjaar geskiedenis maak deur die Wêreldbeker vir ’n derde keer – die tweede keer agtereenvolgens – te wen. En dit daar in die All Blacks se agterplaas.

’n Sportwebtuiste se peiling het die bedenkinge nogal goed saamgevat: “Ek kan dit hanteer, maar dit gaan die spelers doodmaak.” het die meeste deelnemers gemeen.

In vandag se vinnige hoëimpakrugby laat die skynbaar onblusbare passie van spelers soos Schalk Burger, Juan Smith, Bismarck du Plessis en Heinrich Brüssow aanhangers soms dink ons spelers is koeëlvas. Maar selfs ouens met sulke gene en stamina kan volgens kenners nie jaar ná jaar so hard en aanhoudend speel sonder nagevolge nie.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 21 April 2011