HOENDER-ETERS wou onlangs die horries kry toe hulle in die koerant lees die boudjie waaraan hulle gisteraand nog lekker gekou het, kom dalk van ’n stokou voël wat ná sy vervaldatum met pekelwater gedokter en toe weer ewe op die winkelrak teruggepak is.

Het hulle geproe dié opgedolliede ding smaak verdag? Wel, nou ja, dalk nie juis nie . . .

Dit het ons laat wonder: Is ’n hoender nie maar ’n hoender en klaar nie? Of hy nou met soutwater ingespuit, vry rondgeloop en goggas gepik het of sommer net ’n gewone ou bevrore hoender was – kan jy werklik die verskil proe?

Aan jou sak voel jy dit wel. Maar is dit werklik die smaakervaring werd om organies of vrylopend te koop as die bevrore meneer net soveel goedkoper is?

En so besluit Huisgenoot toe op ’n hoenderproe: niks ernstigs nie, gevaarlik onwetenskaplik . . . die soort kombuispret wat enige huishouding kan aanpak. Trouens, daar was dalk hoogstens twee werklike koskenners in ons ganse proepaneel.

Van kontrolegroepe ensovoorts was daar g’n sprake nie, maar ons het beslis nie geweet aan watter hoender ons proe nie. En elkeen van die vyf soorte hoender wat in ons toetskombuis deurgeloop het, is presies dieselfde gaargemaak . . . wel, ons het probeer.

Hoe ook al, assistent-kosredakteur Bernice van der Merwe het vyf taamlik uiteenlopende slagoffers gaan uitsoek, die Maandagoggend met hul gal begin werk en die res van ons toe laat nader staan.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 10 Januarie 2011