Die blondekopvrou hop behoorlik toe die selfoon wat sy al heelmiddag byderhand hou, uiteindelik lui.

“Ag verskoon tog, dis die man van my televisieprogram. Ek moet gou ’n boodskap van sy oorlede vriend aan hom oordra,” sê sy.

Marietta Theunissen trippel uit, verskyn dan sekondes later weer. Sy lyk asof ’n las van haar skouers gelig is. “My produksiebestuurder se vriend is ’n ruk gelede in ’n motorongeluk oorlede en hy het vanoggend aan my verskyn met ’n boodskap,’’ vertel sy.

“Ek het geen idee wat die boodskap beteken nie, maar ek kon nie ontspan tot ek dit oorgedra het nie.’’

Sy laat val dié brokkie asof dit so alledaags is soos geselsies met die buurvrou oor die weer.

Vir Marietta, die heldersiende medium wat die program Die Ander Kant op kykNET aanbied, is die bewoners van die lewe ná die dood inderdaad net so werklik soos die mense wat die strate rondom haar meenthuis in Johannesburg bewandel.

Sy sien hulle en hoor hulle. Hulle vul haar gedagtes met hul woorde en verskyn sommer by die supermark of die haarkapper voor haar. Of so sê sy...

Ons het laas in 2007 met haar gesels toe sy die Bloemfonteiner Danie Krugel gehelp het om na slagoffers van die berugte ontvoerder Gert van Rooyen te soek. Dit het destyds groot omstredenheid veroorsaak, en met die vyfde seisoen van Die Ander Kant nou op kykNET vat heelparty lesers haar weer aan in hul briewe in Huisgenoot.

“Ek het geen behoefte om enigiemand te oortuig van wat ek ervaar nie. Ek weet wat dit is en hoeveel van my ervarings al deur mense bevestig is wanneer ek boodskappe van die ander kant aan hulle oordra,” sê sy toe jy hardop wonder of dit nie alles net ’n geldmaakfoefie is nie.

Dit kos immers R750 om in ’n groepsessie van 15 minute saam met nege ander mense deur haar met jou oorlede geliefdes kontak te maak. “Ek verkies dit as mense wat my nie glo nie, my eerder uitlos. En ek het verlede jaar hoeveel werk verniet gedoen,” lag sy gelate.

Dit gebeur elke dan en wan dat ’n gees haar uit die hiernamaals uit die bloute sal vra om ’n boodskap op straat aan ’n vreemdeling oor te dra, vertel sy.

“Ag tog, dan wéns ek soms ek hoef dit nie te doen nie! Ek vra altyd drie keer of ek dit móét oordra, en dan sal ek na die persoon stap en sê: Ek het vir jou ’n boodskap, wil jy dit hoor?”

Dit gebeur ook amper nooit dat iemand aan die ander kant met wie sy probeer kommunikeer, nie wil nie. “Miskien so een uit elke 30 keer. Dan sê die persoon reguit: ‘Ag nee wat, ek het niks om te sê nie.’ ”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 4 Maart 2010.

Bespreek vir Skouspel!