[caption id="attachment_168452" align="alignnone" width="600"]Foto: Lubabalo Lesolle Foto: Lubabalo Lesolle[/caption]

Die tiener is gebore met progerie, ’n seldsame genetiese toestand wat vinnige veroudering veroorsaak.

Haar dokters het voorspel sy sal nie langer as haar 14de verjaarsdag leef nie.

Die Phalatse-familie het in ’n verklaring gesê Ontlametse is Dinsdagaand oorlede nadat sy asemhalingsprobleme ervaar het.

Daar is met haar na die Hebron-kliniek gejaag en sy is daarna na die Dr. George Mukhari akademiese hospitaal oorgeplaas.

Die dokters het alles moontlik gedoen om haar te red, maar sy het ongelukkig gesterf. Haar ma, broer, familielede en vriende was saam met haar.

Ontlametse het enkele weke gelede ’n item op haar emmerskoplysie afgemerk toe sy pres. Jacob Zuma ontmoet het – dit was haar hartswens om hom te ontmoet.

Hulle het twee dae voor haar 18de verjaardag by die presidensiële gastehuis, Mahlamba Ndlopfu, in Pretoria  ontmoet.

Die presidensie het vanoggend ’n verklaring oor haar dood uitgereik en gesê ’n “dapper jong vegter het geval”.

“Ons ontmoeting met Ontlametse verlede maand het ons lewens geraak. Sy was inderdaad baie spesiaal. Ek was beïndruk met haar skerp intellek, warm persoonlikheid, briljante idees en vasberadenheid om haar toestand te gebruik om ander te motiveer sodat hulle hul doelwitte, ongeag die uitdagings, kan bereik. ’n Dapper jong vegter het geval. Mag haar gees almal wat met gestremdhede leef of enige uitdagings in die gesig staar, inspireer om aan te hou om soos sy voluit te leef. Ons is baie trots op haar. Ons wil ons meegevoel aan haar ma, hele familie en die Ontlametse Phalatse Trust met hierdie hartseer verlies oordra. Mag haar siel in vrede rus,” het pres. Zuma gesê.

Die president het hom verder daartoe verbind om sy planne om die familie te help met ’n huis – een van Ontlametse se wense – deur te voer.

Kyk video hier: