Richard van Rensburg, 'n joernalis by Huisgenoot onthou Fiona Coyne, die aktrise en aanbieder van die gewilde televisie-reeks The Weakest Link. Sy is Woensdagoggend dood by hy haar huis in Vishoek aangetref.

Die formidabele rooikop kon deelnemers aan The Weakest Link met groot finesse - sommiges het gedink harteloosheid - vermorsel.

Die meeste ouens het Fiona Coyne as die giftige vasvra-diva geken, dalk nie die gesoute aktrise, dramaturg en skrywer van verhoogstukke soos The Shadrack Affair, As The Koekie Crumbles en die veelbekroonde Glass Roots nie... of die korporatiewe kommunikasiespesialis wat maatskappye vertel het hoe hulle hul beeld kon verbeter... of die avontuursport- en groot diereliefhebber wat lank in Kenia baba-olifante help grootmaak het nie.

Ons was self ietwat lugtig toe ons destyds in Kaapstad met haar gesels het ná 'n lank uitgestelde operasie om ore reg te stel. ``My dears", het sy hulle toe genoem.

Ons het uiteraard gevra hoeveel van wat kykers gesien het regtig Fiona was. Toe vertel sy hoe 'n vrou haar eenkeer in Pick & Pay behoorlik uitgevreet het oor sy deur The Weakest Link ``tot ‘n aggressiewe nasie bydra’’. Ander het gemeen sy's 'n goeie aktrise en vermoed sy's dalk net 'n ``absolute skat''. (``Ek kan een wees, maar is ook nie van nature 'n Mary Poppins nie...'') Die meeste wat 'n geselsie aangeknoop het, het egter gehou van die idee van 'n sterk vrou wat haar sê kan sê.

Hoe ook al, daardie middag saam met Fiona by die Marimba-restaurant was een van die prettigste stories wat nog by Huisgenoot uitgedeel is.

Heng, sy is darem maar skerp, vermaaklik, veelkantig... en nice, het ons nog gedink toe ons laggend koebaai sê...

Hier is die onderhoud wat Richard van Rensburg met haar in 2005 gevoer het. Dit het in die Huisgenoot van 5 Mei 2005 verskyn.

GEDINK gifbek Fiona van The Weakest Link lyk deesdae effens anders? Jy’s reg. Dis haar ore.

Fiona Coyne het ’n oor-jop ondergaan, en ek moet gaan verneem hoe dit gaan. En ek’s nie eens verseker nie. Ek  bedoel wie gaan my oorskot wegry?

Daar’s tog soveel ander dinge waaroor ’n mens die vrou sou kon pols. Soos dat die vasvradiva ook ’n bekroonde dramaturg is. Of haar vlieëry, of die klein olifantjies wat sy hans grootgemaak het in Kenia.

Enigiets, net nie haar ore nie. Maar daar laat blyk die formidabele rooikop toe oor ’n rock shandy in ’n Kaapstadse restaurant sy weet ook van gevoelens. Sy’s blykbaar ’n korporatiewe kommunikasiespesialis en vertel onder meer vir maatskappye hoe hulle hul beeld kan verbeter. Soms gaan dit, nou ja, oor iets net so sensitiefs soos groot ore . . .

‘‘Voor ek vir ’n kliënt sê jy moet rêrig iets omtrent dit en dat doen, sal ek eers die hou ’n bietjie probeer versag deur te sê: Ons almal het dinge omtrent ons voorkoms wat ons haat. Wat sou jy dink haat ék omtrent myself? ‘‘En dan sal hulle dikwels aangaan oor my lengte (sy’s baie kleiner as wat sy agter haar Link-kansel lyk). Of hulle sê, jy het nogal ’n groot  eus. En ek sal net sê: Juistement.

‘‘Maar eendag sê ’n ou vir my: Sies tog, jou ore!

‘‘Ek het amper van my stoel af geval, want ek het nooit rêrig my ore as ’n probleem beskou nie. TV is ’n fel medium. Waar ander mense daarna ’n program gesien het wanneer ek op TV verskyn, het ek net ’n lewensondersteuningstelsel vir ore gesien.

‘‘Ek het begin bang raak dat ek eendag soos prins Charles sou lyk. Iemand het my vertel jou neus en ore hou lewenslank aan groei. Naderhand was ek bang om haarkapper toe te gaan: twintig minute tot ’n uur

waarin ek voor die spieël daarna moes sit en staar.’’

Vriende en familie het gesê sy is verspot. Haar man, Willie, het getroos: Nee, nee, haar ore is pragtig.

‘‘Willie glo nie aan antagonisme nie. Maar die lewe is te kort om met dinge saam te leef waarvan jy nie hou nie en wat jy kan verander. Dus, waarom nie?’’

Agt, nege maande gelede het sy een oggend besluit sy gaan aan haar ore laat werk en klaar.

Sy was eers bekommerd dat sy na dese nie net bakore sou hê nie, maar bakore met littekens, spot sy. Maar nie vir lank nie.

‘‘Ek’s na ’n goeie chirurg. Ek het dadelik van hom gehou en hom vertrou. Dis belangrik as jy aan iets so sensitiefs laat sny.’’

Nog raad vir ander otoplastiekandidate: ‘‘Moenie ’n polonektop na ’n oor-jop toe dra nie!’’ Sy was nie die pyn agterna te wagte nie.

‘‘Die dokter het vooraf vir my gesê otoplastie is ’n relatief pynlose operasie. Wat my nou laat vra: Relatief tot wat? Om jou ingewande te laat uitruk?!’’

In bilaterale otoplastie soos hare word die kraakbeen gemanipuleer, ’n snit agter die ore gemaak en hulle met metaalsteke platter teen die kop teruggetrek.

Daarna word hulle ook met ’n kopverband plat teen die skedel gehou tot die vel genees en die ore in die nuwe posisie bly. Al die snywerk word agter in die waai van die oor gedoen. Dus geen littekens nie, glimlag Fiona.

So vier uur ná die operasie het sy die eerste keer pyn gehad.

‘‘Teen sewe-uur die aand het my man gedink ek’s dood. Want toe’s ek al twee uur lank tjoepstil, so seer was dit!

‘‘Maar ek het ook nooit voorheen chirurgie ondergaan nie.  Die seerste wat ek voorheen gekry het, was ’n gebreekte toon op vyf. Dalk was ek net pieperig.’’

Fiona, wat gewoonlik elke dag ver ente met haar Skotse skaaphonde gaan stap, moes tien dae met ‘‘hierdie groot tulband’’ by die huis rondhang.

‘‘Watter verligting toe die verbande eindelik afkom en ek weer my hare kon was!’’

Sy het nie gedink die verandering sou so onmiddellik sigbaar wees nie. ‘‘Ek het swelling, lang genesing, verwag. Maar ek het letterlik onder die stort ingespring, ’n vriendin gebel en gesê: Kom ons gaan eet. Dis ’n new ear celebration!

Twee dae later het ek my hare korter as ooit tevore laat sny. ‘‘Hulle is nie meer my ears nie,’’ lag sy. ‘‘Ons noem hulle nou my dears!’’

En Willie? ‘‘Hy was in ekstase en het gesê dis ’n ongelooflike verandering.’’ Sy het hom nie aangevat oor sy nuwe deuntjie nie. ‘‘Ek voel jammer vir mans. Hulle moet altyd lojaal wees.’’

Baie mense het toe beken hulle het tevore al self aan hul ore laat werk. ‘‘En vra ek waarom hulle my nooit gesê het nie, is hul reaksie: ‘’n Mens praat nie oor sulke dinge nie.’ Asseblief! Dis nie asof jy ’n breinoorplanting gehad het nie!

‘‘En die vriende wat eers gereken het daar skort niks met my ore nie, het agterna gesê: ‘Goeiste, dis nogal ’n groot verskil!’ ’’

Dis verstandig van ouers om vroeg weerbarstige ore by kinders te laat regstel, reken Fiona. Of sy nou enige ander regstellings oorweeg?

‘‘Skimp jy ek het iets anders nodig?’’ vra sy en leun onheilspellend vorentoe. En dan: ‘‘As jy diep veroudering tref en ’n ontrimpeling is ’n opsie, waarom nie?

‘‘Hoe ook al, my TV-grimeerkunstenaar was baie bly oor alles. Want soos bruide geneig is om pal hul sluiers te verstel, moes sy voorheen gedurig my hare verstel!’’

’N VROU het haar al in Pick ’n Pay bygedam en ’n halfuur lank uitgevreet omdat sy met The Weakest Link ‘‘tot ’n aggressiewe nasie bydra’’, vertel Fiona oor ’n tweede drankie. ‘‘Maar die meeste mense wat my voorkeer, waardeer ’n sterk vrou wat nie doekies omdraai nie.’’

Party mense meen die katterigheid is alles toneelspeel ‘‘en dat ek eintlik ’n absolute skat is. En ek kan ’n skat wees, maar ek’s ook nie van nature ’n Mary Poppins nie.

‘‘Wat nie beteken ek’s 24 uur per dag ’n siedende teef nie . . . dis nader aan 22 uur.’’

Wel, daar het jy het dit nou. Sy probeer daagliks so vyf beledigings uitdink om ’n lekker versameling vir The Weakest Link byderhand te hê. Maar andersins kan sy nie juis voorberei nie. Sy laat haar lei deur haar indrukke van die uitdagers en hul reaksie op haar bitsigheid.

‘‘Party speel saam. Maar met dié wat soos ’n haas in kopligte lyk, of jy ’n mes in hul keel gedruk het, sal jy dit kalmer vat.’’

Fiona is ’n gesoute aktrise en skrywer van vier toneelstukke, waaronder een, Glass Roots, al elf pryse gewen het.

Buiten goeie kos en wyn en veral J.M. Coetzee se skryfwerk hou sy ook van rekspring en valduik en hoop om einde vanjaar haar vlieglisensie te kry.

Intussen geniet sy die opwinding van haar TV-werk. Want jy weet nooit wat om te verwag nie.

‘‘Só was daar die meisie van die Baai, vol frille, grille en giggles – vrééslik, sê ek jou. En toe sy sê sy het ’n versameling porseleinkoeie in die kombuis, het ek éérs onder haar ingeklim. ‘‘ ‘Maar sy’s lief vir hulle, sy’s rêrig dol oor koeie,’ sê sy toe. ‘Trouens, wil ek nie deel word van die versameling nie?’ ’’